9 dae gelede
Vroue vies oor hul g’n hamper kry
SUKKEL OOK: Marie Willemse (heel links), Salomie Solomons en Anna Lamberts wil weet waar die lyn getrek word as dit by honger kom.  ~ Keith Meyer

HONGER en swaarkry kom klop aan almal se deur.

Dít is die woorde waarmee ’n groep huisvroue van Bergsig en Royal Heights Son begroet het.

Terwyl sommige gesinne blink geëet is, is ander vaal van die honger.

Anna Lamberts vertel: “’n Tydjie terug is hier vorms ingevul by ’n kerk. Net sekeres het daarvan geweet.

“En eers agterna het ons verneem dit was vorms vir mense wat swaarkry om kos-hampers te kry.

“Hier is mense wat so sieklik is dat hulle nie kan werk nie. Nie eens die mense in die plakkerskamp het geweet van die vorms nie. Of kry nie almal honger en swaar nie?”

Kook

Volgens die inwoners is die nood baie groot.

Salomie Solomons sê: “Ons is almal groot vroue wat die pot aan die kook moet hou.

“Dié wat geweet het van die hamper-aansoeke, het nie ’n opname gedoen om vas te stel waar die nood die hoogste is nie. Hoekom het net die handjievol gekry? Die nood dáár was nie eens so hoog soos by die meeste ander nie.”

Esther Lewis van die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling sê: “’n Nood-intervensie vir risiko-huishoudings is gedoen. Dié kriteria is gebruik: Huishoudings deur Covid geraak, Chronies siek mense wat deur gesondheids­instansies geïdentifiseer is.

“Kinderhuishoudings, ouer persone en persone in afwagting van toelaes is ook geïdentifiseer. Maatskaplike dienste se professionele mense was by dié proses betrokke. Persone kan ook aansoek doen vir die relief fund van R350.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters