Verlede maand
Vrou eis justice
WOONPLEK: Die plaashuis waarin Sandra Fortuin bly.  ~ Peter Abrahams

GRABOUW. – ’n Plaaswerker is al 13 jaar verlam nadat ’n plaasboer haar na bewering aangerand het.

Sandra Fortuin van die plaas Deepdale is aan haar bed gekluister en kan haarself nie help nie.

Fortuin sê sy voel dis tyd om uit te praat oor geregtigheid moet geskied.

Volgens haar kon sy nie destyds ’n saak teen Johnny Hutton-Squire maak nie oor haar ma bang was hy sou hulle van die plaas afsit en hulle sou dan ook sonder werk wees.

Fortuin sê sy onthou nog duidelik die dag toe Hutton-Squire in die boord na haar en haar oom gekom het.

Geskop

Volgens haar het hy geen waarskuwing gegee nie en net begin trap.

Fortuin vertel: “Hy het my geskop en trap. Toe ek hom vra hoekom hy dit doen, het hy net gesê hy is gestres.

“Skielik het die pie begin loop en ek het nog gedink ag, dis maar net pie.

“Toe ek afkyk, het ek bloed gesien. Ek was lam en kon nie beweeg nie. Ek het gesukkel om regop te sit.

“Die ander werkers het vir my gewag en gesê ek moet opstaan, maar ek kon nie.

“Eers ná ’n hele ruk toe kon ek weer loop, maar dit was baie swaar.

“Toe ek by die huis kom, het my ma my gevra wat fout is en ek het haar vertel.

“Sy het vir my gesê ons moet maar liewer nie ’n saak maak nie oor ons uit ons huis gesit kan word.”

Fortuin vertel sy het hierna probleme in haar bene en rug ondervind. Sy is hospitaal toe en die dokters het vir haar ’n loopraam gegee. Volgens Fortuin was dit nie lank nie, toe is sy in ’n rolstoel. Nou is sy aan ’n bed gekluister.

Sy sê die dag ná die voorval het Hutton-Squire haar na die hospitaal geneem. Daar is bloedtoetse gedoen en dit was dit.

Fortuin sê die tyd het aangebreek dat Hutton-Squire vervolg word oor haar hele lewe daarmee heen is.

“Die boer is baie onbeskof! Hy loop en slaan al jare ons mense só op die plaas.

“Dis deur hom dat ek nou hier lê. As hy my nie só aangerand het nie, kon ek nog vandag vir myself gewerk het.

Siviele

“Ons het geen regte nie. Hy wil maak en doen met ’n mens soos hy wil!”

Fortuin sê sy is van plan om ’n siviele eis teen Hutton-Squire te bring.

Toe Son Hutton-Squire vir kommentaar nader, het hy nie erken óf ontken dat hy Fortuin destyds aangerand het nie.

Hy het egter gevra of daar ’n diag­nose is wat bewys dat Fortuin verlam is omdat hy haar aangerand het.

Hutton-Squire se houding het egter vinnig in ’n ander rigting beweeg.

“Hoekom kan julle nie net vorentoe beweeg nie? Hoekom wil julle modder gooi? Gooi julle modder omdat daar apartheid was?

“Sandra bly al jare in ’n huis en ek vra haar nie ’n sent hiervoor nie. Julle is nes die politicians, wat nie vorentoe wil beweeg nie.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters