12 dae gelede
Vrou by werk ernstig beseer
’N GESUKKEL: Magrieta Fortein sê haar werkgewer ondersteun haar nie nadat sy beseer is nie.  ~ Kallie Smit

EENDEKUIL. – ’n Vrou wat ’n ernstige besering by haar werk opgedoen het, sê haar werk het nou niks meer met haar uit te waai nie.

Magrieta Fortein (45) het in Januarie ’n tydelike werkkontrak by Cape Rooibos in Eendekuil geteken, maar dié werkplek waar die gewilde rooibostee vervaardig word, het nou glo ’n bitter smaak in Fortein se mond gelaat.

In Februarie is haar voet ernstig beseer terwyl sy by die werk was.

Ná ’n operasie het komplikasies ingetree en haar kuitspiere het ingegee.

Haar voet is geswel en sy moet nou met ’n spesiale voetstut oor die weg kom.

Fortein vertel: “Ek is konstant in pyn en kom moeilik oor die weg.

“Die werk het my net vir drie maande betaal en op die oomblik het ek geen inkomste nie.

“Hulle gee net vir my vervoergeld om by die dokter en die fisioterapeut in die Paarl uit te kom.

“Ek moes al een keer my afspraak met die dokter en terapeut kanselleer sodat ek die vervoergeld kon gebruik om oor die weg te kom.

“Dit gaan baie swaar met my en ek het ’n 13-jarige dogter op skool na wie ek moet omsien.”

Jandré van Tonder, die finansiële bestuurder by Cape Rooibos, wat Fortein se situasie hanteer, sê hy het uit sy pad gegaan om haar by te staan.

“Sy was ’n seisoenwerker vanaf Januarie tot April.

“Sy het drie maande se salarisse gekry soos ons verplig was om te betaal en daarna moes sy ’n claim insit by die Compensation Commission.

“Ons het aanvanklik gesukkel met haar registrasie sodat sy kan claim vir haar besering, maar toe dit uit­gesorteer is, het ons self haar vorms ingestuur.

“Ons het ook vir haar ’n claim-nommer gegee.

“Ek het gevoel om haar tegemoet te kom met haar vervoerkoste na die dokter en fisioterapeut.

“Ons probeer haar nie indoen nie.”

Inligting

Fortein sê egter Van Tonder speel nie oop kaarte met haar nie.

“Hy wil my nie die nommer en inligting gee van die persoon na wie hy glo my claim-vorms gestuur het sodat ek dit kan bevestig nie. Dit laat my worry.”

Fortuin is tans by haar kêrel, wat na haar omsien, omdat sy nie op haar eie oor die weg kan kom nie.

Piet Waterboer, ’n gemeenskapswerker van Tulbagh wat veral mense bystaan met soortgelyke probleme, het onderneem om Fortein by te staan met haar probleem.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters