Verlede maand
Vriend verdrink ná vrolike kuier
HARTSEER: Chadwin Pokwas se liggaam lê op die rivieroewer.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Chadwin Pokwas (22) van Montagu was nog in die fleur van sy lewe toe die Breërivier dit Sondag kortgeknip het.

Pokwas se close pellie, Enrico Kleintjies, sê Pokwas het Saterdag tot laatnag by sy huis gekuier.

Kleintjies sê toe dit al baie laat word, het hulle besluit om Ashton toe te ry.

Volgens Kleintjies het die driver gesê hulle moet terugry Robertson toe en weer by Kleintjies se huis verder gaan kuier.

Pokwas wou nie meer by die tjommies kuier nie, al het Kleintjies hom baie mooi gevra om eerder by hulle te bly.

Pokwas het besluit om hom in die oggendure by ’n ander groep tjommies te gaan aansluit.

Kleintjies sê hy het Pokwas later die oggend by die drankwinkel raakgeloop, waar hy in ’n kar geklim het.

“Ek onthou net hy het gesê dat hy saam met daai ouens rivier toe gaan.

“Hy was baie vrolik en is toe saam met daai ouens rivier toe,” vertel ’n emosionele Kleintjies.

Volgens hom was dit kort ná middagete toe hy die slegte nuus kry dat Pokwas in die rivier verdrink het.

“Ek is onmiddellik af na die rivier toe. Toe ek daar kom, het sy lewelose liggaam op die wal gelê,” sê Kleintjies hartseer.

Volgens hom het hy verneem Pokwas het in die rivier gaan duik.

Pokwas het in die moeilikheid beland en begin spartel. ’n Vriend het probeer om hom te red, maar tevergeefs. Hy het onder die water verdwyn.

Wonder

Die ander het daarin geslaag om hom by die wal te kry, maar paramedici het hom later op die toneel dood verklaar.

’n Hartseer Kleintjies sê hy kan nie anders as om te wonder of sy vriend nog sou gelewe het as hy net na hom geluister het nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters