Verlede maand
Vreemdeling se lyk lê by varke
Varklike gedagte: ’n Man se liggaam is hier gedump vir die plaasdiere om op te vreet.Foto: Basil Davids  ~ 

ROBERTSON. – Die cops is op die spoor van die mens of mense wat ’n onbekende man vermoor en toe sy liggaam in ’n varkhok gaan gooi het.

’n Ingeligte sê ’n varkboer het verlede week op die slagoffer se verminkte liggaam afgekom toe hy vir sy varke water aangedra het.

Daar was na verneem word baie bloed in die varkhok.

Son se bron vertel teen die tyd dat die lyk ontdek is, het die varke al die man se hele gesig weggevreet.

Kort ná die grusame ontdekking het van die mense wat naby die varkhokke woon uit nuuskierigheid daarheen gestroom.

Die polisie se forensiese eenheid het die lyk uit die varkhok gehaal.

Mense van die woonbuurt Nkqubela beweer die man is vermoor en sy liggaam is toe in die varkhokke weggesmyt.

Volgens ’n inwoner wat anoniem wil bly, ken niemand die slagoffer nie en dit is ’n raaisel oor hoe hy daar tussen die varke beland het.

Nog ’n inwoner, Benjamin Stefanus, sê hy het die laaste tyd niks verdags opgemerk nie.

Hy sê hy slaap met een oog oop en die ander een toe, want hy weet van mense wat hier vee wil kom steel.

Volgens Stefanus het booswigte al hier skape en varke gekom steel, maar die veediewe is nou al ’n lang ruk doodstil.

“Ek wil ook baie graag weet hoe daai man se lyk hier in die varkhok kom beland het,” voeg Stefanus by.

Die polisie ondersoek ’n moordsaak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters