17 dae gelede
Vrede sit nie in elk se broek
DRAMA: Gertruida Nero (heel links), Tarryn October, Romey Nero, Ronald Nero en Thurston Goliath sê die vonke spat as hul bure ’n dop in het.  ~ Kallie Smit

SARON. – Sonde met die bure is nooit aangenaam nie en dinge kan liederlik handuit ruk as daar geskel word oor cheap panties van R25.

Gertruida Nero (49) en Ronald Nero (52) en die Mayaki-gesin bly twee huise van mekaar af.

Gertruida sê dinge het verlede Saterdag breekpunt bereik toe haar dogter Romey Nero (17) aangerand is. Sy beweer Prudence Mayaki het Romey opgedons.

Romey is na Mayaki se huis nadat ’n vriendin haar laat roep het.

Sy vertel: “Prudence maak toe lelike aanmerkings oor my niggie en sê sy kom van die plaas af en dra cheap­ panties van R25.

“Toe ek sê sy moet dit self vir my niggie sê, klap sy my. Ek het my toe verdedig en toe moet ek hoor ek moet my kind se pa gaan soek. Ek hét nie eens ’n kind nie.”

Tarryn October (17), Romey se niggie, sê: “Ek het gaan uitvind wat gebeur het toe Romey onder trane by die huis aankom.

“Toe ek daar kom, toe rand Prudence se pa en broer my aan.”

Ronald en Thurston Go­liath (19) het gaan kyk wat aangaan toe hulle die rumoer hoor.

Ronald vertel: “Prudence se pa kom toe met ’n graaf om my te slaan, maar toe gaan haal hy ’n lang mes in die huis.

“Hy probeer my toe steek, maar ek buk toe betyds.

“Dis ’n man wat voorheen ’n reservis was.

“Sy seun het vir Thurston ook probeer steek, maar hy was dronk, toe val die mes uit sy hand uit.”

Tarryn het die slegste daarvan afgekom en is met twee toegeswelde oë en kneusplekke huis toe.

Daar is Sondag oor en weer klagte gelê, maar die polisie het almal toe oorreed om vrede te maak.

Maar Gertruida sê die vrede het net ’n paar uur geduur.

Sy sê: “My seun het ’n driejarige dogtertjie by Prudence. Hulle hou die kind van ons af weg.

Kant

“Die kind moet nou onder dié onenigheid ly omdat sy graag by ons ook wil kuier.

“ ’n Paar uur nadat ons vrede gemaak het by die polisiestasie het Prudence en die kind by my verbygeloop.

“Toe die kind vir my ‘Mamma’ roep, vra haar ma: ‘Watse mamma? Sy is nie jou mamma nie.’ ”

Son het by Mayaki gaan luister wat haar kant van die storie is.

Sy sê toe haar kind se pa betaal nie onderhoud nie en daarom hou sy haar weg van hom af. Voordat sy haar gesprek kon voortsit, het haar pa haar gestop en gesê sy moenie verder praat nie.

Haar pa het self ook geweier om iets te sê.

Gertruida sê haar seun gee geld vir sy kind as hy die slag werk en sy en haar man gee ook wanneer die kind iets nodig het. Sy is ook baie omgekrap oor bewerings dat haar kind swanger is terwyl sy nog op skool is.

Ronald voeg by Mayaki, haar pa en broer is lief vir moeilikheid maak as hulle die slag te diep in die bottel gekyk het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters