Verlede maand
Vrae oor wonde
RAAISEL: Jan Engelbrecht se lyk is onder verdagte omstandighede gevind.  ~ Foto Verskaf

EENDEKUIL. – Die familie en gemeenskap is omgekrap oor ’n moord­ondersoek wat erg sloer.

Jan Engelbrecht (71) se lyk is op 14 November net buite die dorp in die middel van die pad gevind, maar sy familie wag steeds om te hoor hoe die ondersoek vorder.

Engelbrecht se familie sê sy kop het oopgebars en sy harsings het eenkant gelê.

Die polisie het op die toneel ’n man ondervra en sê dié het erken hy het dié Saterdag omstreeks 05:00 oor Engelbrecht gery. Die man het egter beweer hy het oor die ou man se arm gery waar hy in die pad gelê het.

Die cops het hom laat gaan.

Weggestuur

Volgens Engelbrecht se dogter Leatitia Engelbrecht (40) het die polisie eers die volgende dag DNS-monsters van haar pa van die voertuig verwyder vir forensiese toetse.

“Die polisie het eers die dag nadat my pa se lyk gevind is die keppie vir ons gebring wat hy op sy kop gehad het.

“Hulle het dit nie weggestuur vir toetse nie, alhoewel daar drie gate in was wat soos messteekmerke lyk.

“Ons vermoed my pa is elders aangerand of doodgemaak. Hy was by sy oorlede ma se huis en daar was ’n bloedspoor van die huis af tot waar sy lyk gevind is.

“Daai tyd van die môre ry daar baie lorries op daai pad. Die mense wat hom daar gaan neerlê het, wou dit na ’n ongeluk laat lyk het.

“Die gemeenskap is baie omgekrap, want my pa was ’n baie goeie mens. Hy het graag kinders bederf. Hy was ’n bouer en het mense baie min geld gevra as hy bouwerk vir hulle gedoen het.”

ONSEKERHEID: Engelbrecht se familie wil weet wat presies tot sy dood gelei het. Foto: Verskaf

Leatitia sê haar ma, Lys (70), se gesondheid het agteruitgegaan ná hul pa se dood.

Kapt. William Basson, plaaslike stasiebevelvoerder, sê: “ ’n Saak van strafbare manslag word ondersoek. Daar het intussen nuwe inligting aan die lig gekom.

“Ons wag nog op uitslae van DNS-toetse en die foto’s wat op die toneel geneem is.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters