5 dae gelede
Vrae oor bebloede baadjie
ONDER BLOED: Christine Ambrose sê haar seun kon nie selfmoord gepleeg het as sy jacket so erg bebloed is nie.  ~ Basil Davids

ASHTON. – Die ma van die man wie se liggaam verlede week in ’n dam in die dorp gevind is, het in trane uitgebars toe sy haar seun se klere kry.

Son het vroeër berig oor Francois Ambrose (27), wie se lyk laas Sondagoggend in ’n dam gevind is.

Hy is as vermis aangemeld nadat hy nie teruggekeer het huis toe nie.

Francois was volgens sy gebroke familie ’n godsman wat elke dag van sy lewe met sy Bybel onder die blad geloop en jongelinge altyd bemoedig het.

Christine Ambrose (45) het Francois se klere Vrydag vanaf die begrafnisondernemer in ’n sak gekry.

Christine sê toe sy by die huis kom en die sak oopmaak om die klere te was, het sy in geweldige skok gegaan toe sy haar kind se bebloede klere sien.

Christine het in trane uitgebars en moes getroos word.

“Nou is dit duidelik dat my kind wreed vermoor is. Kyk dan na sy baadjie. Dit is dan onder bloed,” het ’n huilende Christine aan Son gesê.

Bewyse

Volgens haar loop die rumours dat Francois selfmoord gepleeg het.

“Die bewyse is dan hier. As my kind selfmoord gepleeg het, waar kom die bloed dan vandaan?” wou die bedroefde ma weet.

Christine sê die bloed is duidelik agter sy baadjie sigbaar. Die familie vermoed dat Francois se aanvaller(s) hom moes betrek het en hom met ’n skerp voorwerp geslaan het.

Christine se daddy, pastoor Frans Landsman het nog aan Son gesê toe hy Francois se liggaam in die dam sien dryf, kon hy ’n duidelik oop wond aan sy voorkop sien.

Landsman sê hy het ook rooi merke aan Francois se nek gesien, asof hy met ’n tou gewurg is.

Volgens Christine het sy ook merke aan Francois se liggaam gesien toe sy hom gaan uitken het.

“Ek gaan die saak nie net so los nie. Ek soek antwoorde en die polisie moet diep delf,” het Christine in trane gesê.

Die familie smeek dat iemand wat weet wat by daai dam gebeur het, die polisie in kennis moet stel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters