9 dae gelede
Voog baie upset ná aanval
ontevrede: Rose Paul is glad nie gelukkig met wat met haar voogkind, Janine, gebeur het nie.Foto’s: ELDRIDGE JASON  ~ 

FRANSCHHOEK. – ’n Skoolhoof wat meer behep is met entjies rook as om die vlaag baklei-voorvalle by sy skool uit te sorteer...

Só voel Rose Paul, voog van ’n tienermeisie wat sowat ’n week gelede liederlik by die Groendal Sekondêre Skool aangerand is.

En om dinge te vererger, is ’n video gemaak van die voorval waarin Janine Baron (16) deur ’n familielid van ’n medeleerder aangerand is.

Volgens Janine, ’n gr. 10-leerder, het sy net die skool verlaat toe die suster van ’n gr. 9-leerder op haar afstorm en haar van ’n kant af begin klap.

“Die meisie beweer ek het haar suster gedreig, maar ek weet niks van so iets nie.

“Terwyl sy my so aangerand het, wou ek terugbaklei, maar het besluit om nie terug te veg nie en eerder ’n saak te gaan maak.”

In die 52 sekondes lange video reën die houe behoorlik op Janine neer, terwyl haar medeleerders net daar staan en hardop lag.

seer: Janine wys die krapmerke wat sy opgedoen het. FOTO’S verskaf

“Dit maak my hartseer om na daardie video te kyk, want ek was verneder.

“Ek het niks verkeerds gedoen nie en het maar besluit om terug te gaan na my mense in Ceres,” het Janine hartseer gesê.

Dié fight het haar met krapmerke agter die nek gelaat en ’n geswelde kakebeen, wat dit vir haar vir dae moeilik gemaak het om te eet.

Haar voog, Rose Paul, sê sy is glad nie beïndruk met hoe die skoolhoof, Mervin Kulsen, hierdie situasie hanteer het nie.

“Die hoof het nie eens gebel om te hoor hoe dit met Janine gaan nie.

Stomgeslaan

“Baie baklei-voorvalle gebeur by daardie skool, maar as die hoof kan staan en rook, is hy hêppie.”

eina! Janine het tot in haar oor gebloei.

’n Inwoner, Surita Riffel, sê sy is stomgeslaan deur die skoolhoof se houding.

“Ek het die hoof gebel om te hoor wat hy aan die situasie gaan doen,” vertel Riffel, “en hy het my reguit gesê daar gaan niks van die saak kom nie, want die voorval het nie op die skoolgronde plaasgevind nie.

“Ek het by verskeie kundiges in die onderwys navraag gedoen en is meegedeel dat die skool steeds moes optree, aangesien dit net buitekant die skoolgronde plaasgevind het en die leerder nog in haar skooluniform was.”

Son op Sondag wou by die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) hoor of hy enigiets van die situasie af weet.

Teen druktyd het die WKOD egter nog nie op enige van ons navrae ge­reageer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters