5 maande gelede
Vier sit in feestyd ná stekery
steke: André September het gelukkig net met ’n hou in die been weggekom. Foto: BASIL DAVIDS  ~ 

ROBERTSON. – Vier mans gaan hulle Krismis en Nuwejaar in die tjoekie deurbring nadat hulle ’n man na bewering doodgesteek en ses ander gewond het.

Die voorval van geweld het Saterdagaand in die buurt Môreson voorgekom en die vier het Dinsdag in die hof verskyn.

André September, ’n getuie wat ook in die been gesteek is, vertel die beskuldigdes het sommer mense wild in die pad begin steek.

September sê hy en sy pelle het in die pad geloop toe hy sien hoe die jongens messe uitpluk en op hulle steek-spree gaan.

Volgens September is een van sy vriende met ’n skroewedraaier in die oog gesteek. Hy’t gesterf.

Nog ’n vriend sterk in die Tygerberg-hospitaal aan.

’n Plaaslike dokter het die ander slagoffers behandel.

Deurgeloop

September sê hy weet nou nog nie wat die rede vir die spul se barbaarse optrede was nie.

“Enigeen wat op daardie tyd in die omgewing was, sou ook deurgeloop het,” meen September.

Die cops het die jongens kort ná die aanval aangekeer. Die verdagtes het hier in die landdroshof verskyn op klagte van moord en poging tot moord.

Hulle bly in aanhouding en verskyn op 15 Januarie weer in die hof.

Die staatsaanklaer wou nie hulle name bekend maak voor hulle aansoek om bail nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters