“ONS IS nie ’n klomp diere om tussen vullis te lewe nie.”
Só vertel Elizabeth Fortuin, een van ’n paar ontstelde inwoners van Jamestown, Stellenbosch.
Hulle is ongelukkig oor verlede jaar se vullis wat nou nog nie verwyder is nie.
Fortuin vertel die vullis in die gebied lê nou al byna ’n maand daar en dit raak by die dag net meer.
“Die werkers wat die strate skoonmaak, dump ook bedags net hul hoop daar.”
Die munisipaliteit is veronderstel om dit te verwyder.
Sy kla: “Dit is onmenslik om so te bly. Hier bly bejaardes en kinders ook.”
“Boonop speel die kinders daar en dit is onhigiënies.”
Amptenare van die Stellenbosch-munisipaliteit sê hulle is bewus van die agterstand met die leegmaak van die houers in die gebied.
Stuart Grobbelaar, woordvoerder van die munisipaliteit, sê: “Die skip-trok is tans in vir herstelwerk en ’n privaat kontrakteur maak tans die houers leeg.”
Volgens Grobbelaar maak skoonmaakspanne ook deurlopend die houers skoon en verwyder ook vullis uit die skips om ekstra ruimte te skep.
Hy voeg by dat die skoonmaakspanne Donderdag weer die gebied sal gesoek.
Intussen vra die munisipaliteit op sy Facebook-blad dat inwoners onwettige dumping moet rapporteer.