21 dae gelede
Verkeershoof is onder bewaking
paraat: Geen munisipale beampte sê hoekom die verkeershoof van die Witzenberg-munisipaliteit lyfwagte moet hê nie. Foto’s: mark mentor  ~ 

NOU hoekom sal hulle verkeershoof dan body­guards makeer?

Só wonder die inwoners van Ceres.

Dis oor lyfwagte die verkeershoof van die Witzenberg-munisipaliteit, Mark Green, deesdae omring.

Nie net vergesel dié lyfwagte Green oral nie, hulle gaan haal ook sy kinders by die skool.

Hulle slaap glad voor sy huis ook.

“Vir wat?” wil Naomi Thomas van die Witzenberg Rural Development Centre weet.

Thomas sê hulle het al ’n maand gelede navraag hieroor gedoen by die munisipale bestuurder, David Nasson.

Sy sê: “Ons wag nou nog vir erkenning van ontvangs van ons navraag, wat nog te sê van ’n reply van hom af.

“Ons wil weet waarvoor Green bodyguards moet hê.

“En uit watter begroting word daarvoor betaal?

“Ons wil ook weet hoekom ’n man beskerm word, maar vroue in die streek kry geen beskerming nie.”

Thomas sê as die belastingbetalers vir Green se securities betaal, het hulle die reg om te weet wat klap vir wat.

’n Stryd oor turf woed tans in die taxi-bedryf, maar dis nie duidelik of Green se beskerming iets daarmee te make het nie.

Vyf verdagtes het onlangs in die Ceres-landdroshof verskyn ná ’n skietvoorval waarin ’n man dood is.

Gereageer

Die geweld spruit uit ’n beweerde ooreenkoms tussen ’n boer en ’n plaaslike taxi-vereniging oor die vervoer van werkers.

Son op Sondag het ook navraag gedoen by Nasson, maar hy het teen druktyd nie daarop gereageer nie.

’n Munisipale woordvoerder, Rowena Hendricks, is ook om kommentaar genader.

Hendricks het beloof om uit te vind, maar teen druktyd het sy ook niks laat weet nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters