10 dae gelede
‘Verduidelik dít’
SEER: Die Inwoners van Newton in Wellington is nie tevrede met die verklaring wag gegee is nie.  ~ Jonathan Lestrade

DIE familie van Diego Booysen van Wellington vind dit moeilik om te glo hul lieflingkind het bloot verkluim.

Diego (3) en sy maatjie Alexa Koopman (4) het Maandagmiddag soek geraak nadat hulle laas in die speelparkie in Corona Crescent gesien is. Die kinders is Dinsdagoggend skuins oorkant die speelparkie in ’n kar gevind.

Diego is daar dood verklaar. Alexa is na ’n hospitaal geneem vir waarneming.

Diego se oom Jan Solomons het sy lyk gister uitgeken.

“Hulle sê hy het verkluim, maar as dit die geval is, hoe verduidelik hulle dan die skraapmerke aan sy gesig en die swelling aan die een kant van sy gesig? Daar is net te veel goed van die hele storie wat nie sin maak nie.”

Solomons sê daar is stories dat die kinders vroeër die dag saam met volwasse mans in ’n ander kar gesien is. “Hoekom volg die polisie nie dit op nie? Dit voel vir my hulle haas om die ondersoek te voltooi.”

’n Buurtwaglid, Elroy Philander, sê hulle het ook vrae. “Van ons lede het tot in die oggendure gesoek. Volgens hulle wás hulle by die kar. Die kinders is nie so klein dat hulle dit nie kon oopmaak nie. Hoe is dit moontlik dat niemand tot die volgende dag iets kon hoor nie?”

Volgens ’n bron nader aan die ondersoek moes die kinders ’n hele ruk in die kar gewees het. Een van hulle het ’n stoelgang daar gehad.

“Maar dis nie deur die broekie nie. As die kinders die deur kon oopmaak, sou hulle dit seker daai tyd gedoen het.”

TONEEL: Diego se lykie is in dié kar gevind. Foto: Jonathan Lestrade

Die ruit is stukkend gegooi om die kar van binne oop te maak. Volgens die inwoners van die huis waar die kar staan, is dit al maande stukkend en dit staan gesluit.

Kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, sê ’n geregtelike doodsondersoek is geopen.

Die buurtwag het gister ’n gedenkdiens vir Diego gehou.

Bêre

Sy familie reël die begrafnis.

“Hy was nie op ’n begrafnispolis nie, so ons moet nou rondstaan om selfs net geld te kry om sy lyk in ’n lykhuis te laat bêre,” sê Diego se oom.

  • Enige een wat die familie geldelik wil bystaan, kan Solomons by 079 356 1313 kontak.

    Meer Stories

    Lewer kommentaar op hierdie artikel
    0 reaksies
    Lewer kommentaar
    Kommentaar 0 oorblywende karakters