17 dae gelede
Verdrink oor doppe, stoppe
gesin: Riaan Links se broer, Preston, sy verloofde, Jeneine Afrikaner, en hulle seun, Riaano, staan by die dam waarin hy verdrink het.Foto: KALLIE SMIT  ~ 

SARON. – Wat ver­onderstel was om ’n aangename dag by die dam te wees, het tragies geëindig toe ’n jong man voor sy verloofde en kind verdrink het.

Riaan Links (28) het Saterdag saam met vriende gaan chill by die dam wat langs die vakansieoord in die dorp is. Dié dam het al verskeie lewens geëis.

Links het saam met sy verloofde, Jeneine Afrikaner (30), en hulle seun, Riaano (4), in Kraaifontein gebly.

’n Oom van Links het hulle vir die naweek gevat na Saron, waar sy broer en sy verloofde se familie bly. Hy wou by die dam gaan visvang.

Die oorledene se broer, Preston Links (23), vertel: “Ons was ’n paar vriende wat vir die dag langs die dam gaan afkoel het.

“Terwyl ons besig was om ’n potjie te maak, het Riaan gehengel.

“ ’n Paar van ons het later besluit om deur die dam te swem tot by die oorkantse wal.

“Ek het geweet ek sou dit nie kon maak nie omdat ons gedrink en (dagga) gerook het.

“Ek en die ander het teruggeswem wal toe en ek het Riaan aangeraai om dit ook te doen.

“Omdat Riaan gedrink en gerook was, wou hy dalk vir ons wys dat hy die dam kon deurswem.

“Hy is toe weer by die dam in en het tot in die middel geswem. Hy het omgedraai en vir ons gewaai. Ons het gedink hy maak jokes en ons het van die wal af met hom die spot gedryf.

“Toe verdwyn hy skielik onder die water.

“Dalk het hy ’n kramp gekry en vir hulp beduie toe hy so met sy arm vir ons gewaai het.

“Ek het geswem tot waar hy was en onder die water ingeduik.

“Dit was te donker om hom te sien. Ons het toe die polisie laat kom.”

Polisieduikers het omstreeks 18:00 by die dam opgedaag. Links se liggaam is binne ’n halfuur na die oppervlak gebring.

’n Hartseer Afrikaner, wat vyf maande swanger is met haar en Links se tweede kind, sê hulle seuntjie huil oor sy pa en wil weet wanneer hy huis toe kom.

Volgens die polisie is ’n geregtelike doodsondersoek gelas na Links se dood.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters