16 dae gelede
Verdagte in hof ná vrou keelaf gesny is
moord
Layla Darwish (35).  ~ Foto Verskaf

WELLINGTON. - DIE man wat na bewering sy vrou keelaf gesny het, het Maandagoggend vlugtig sy verskyning in die hof gemaak.

Achmat Darwish het in die Wellington-landdroshof op aanklag van moord verskyn.

Die 37-jarige is Donderdagaand in Lillianstraat, in Wellington gearresteer nadat sy vrou, Layla Darwish, dood in hul huis gevind is.

Bure in die straat het begin onraad vermoed en het die polisie gekontak.

Na bewering het kinders ook gesien dat Achmat en hul drie maande oue babaseuntjie se klere bebloed was.

Volgens 'n bron het 'n ander neighbour ook die polisie laat kom nadat hulle gehoor het hoe Layla in haar huis aangerand word.

Aan Son se verslagspan is vertel dat dit blykbaar ook nie die eerste keer is dat hulle gehoor het hoe Layla aangerand word nie.

Layla se ma, Magdalene Prins, het aan Son vertel hulle vermoed Achmat was op pad om die land te verlaat.

Sy sê toe sy laasweek na die huis gaan, nadat haar kind vermoor is, het Achmat se gepakte tasse gereed gestaan.

"Ek weet nie, maar dalk wou hy die kind uit die land neem. Hy het gereeld huistoe gegaan en sy sou vir sy vlugte betaal.

"Ek dink hoekom die kind vol bloed was, is seker omdat sy die kind teen haar bors vasgedruk het toe hy haar keel afsny."

Die saak is tot Woensdag uitgestel, vir die beskuldigde om 'n prokureur aan te stel.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters