8 maande gelede
Vel kwyt ná fight met kind
DIS EK: Titus Swartz wys hoe sy gesig eintlik lyk.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Volgens ’n pa in pyn het sy tikkop-seun die vel op die allervieslikste manier van sy gesig afgetrek – hy het hom met kook­water gebrand.

Die 55-jarige Titus Swartz vertel hy verduur pyn vanuit die hel.

Hy weet ook hy sal nooit, ooit weer dieselfde lyk nie.

Sy linkeroog is erg beskadig en hy vrees dat hy sy sig kan verloor.

Bekgeveg

Swartz vertel hy was Sondagmiddag besig om vir hom en sy 24-jarige klong kos te maak.

Volgens hom het hulle omtrent elke dag ’n bekgeveg oor werk.

“Hy steel my klere en alles uit die huis vir tik,” vertel hy.

“Ek het hom net gesê dat hy nie meer hier by die huis kan leeglê nie en dat hy vir hom werk moet gaan soek.”

Volgens Swartz het die klong hom toe bloedig vererg en hom gedreig.

Swartz vertel terwyl die pot met aartappels gekook het, het die klong in die kombuis rondgestaan.

Die volgende oomblik het hy die pot van die stoof afgehaal en dit met aartappels en kookwater en al in sy gesig gegooi, beweer Swartz.

Hy sê die klong het hom daarna met die kop in die gesig gekap.

Die hou was so hard, hy het sterretjies gesien.

Volgens Swartz het die klong hom toe uit die voete gemaak.

Die pa sê hartseer: “Ek het net op die grond gaan lê en my hande oor my gesig gehou.”

Volgens hom het ’n buurman hom onmiddellik na die hospitaal geneem.

Swartz sê hy het daar by die hospitaal in ’n spieël gesien hoe hy gebrand het.

Hy het groot geskrik vir wat hy gesien het.

“My gesigvelle het alles afgeval,” sê Swartz na aan trane.

“Ek kan dit nie meer uithou nie en is bevrees dat ek hom sal doodmaak,” gee die oorspanne pa toe.

Volgens hom moet sy seun eerder uit die huis gaan voordat hy dalk tot daai daad oorgaan.

“Ek werk my lewe vir hom om, en dít is die dank wat ek kry.

“Nee, hy moet maar sy goedjies vat en loop.”

Mense het Swartz omtrent aangestaar toe hy gister uit die hospitaal ontslaan is.

Kinders het ongevoelig gespot hy is ’n lewende mummie.

Saak

Die polisie het die klong gister opgespoor.

Hulle het hom na die polisiestasie geneem.

Volgens Swartz het hy by die cop shop ’n saak gemaak.

Die polisie ondersoek die saak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters