4 maande gelede
Veilig tuis ná sy val-slag
VREUGDE: Shaun April met Milvino, wat die geskenkie vashou wat April vir hom gekoop het.  ~ Basil Davids

WORCESTER. – Die gemeenskap van die Roode­wal-flêtse het klein Mil­vino Arendse (2) laat Dinsdagmiddag soos ’n held terugverwelkom.

Son het gister berig hoe Milvino Sondag van hul bure­ se balkon na benede getuimel het.

Milvino en ’n huisvriend, Shaun April, het Sondag­oggend na bure op die heel boonste verdieping van die flêtse geloop.

Gegryp

’n Emosionele April het vertel hoe Milvino aan sy hand vasgehou het terwyl hulle twee die trappe uitgeklim het.

April sê hy het nog op die balkon met die buurman gepraat toe gebeur seker die ergste ding denkbaar – iets wat nog lank in sy geheue gaan bly.

Milvino het skielik aan April se jeans gegryp, maar steeds by die balkon afgeval – 6 m ver. Omstanders het vinnig na die toneel gestroom en gedink Milvino lê dood, maar hy het vir ’n wonder nog gelewe.

Die seuntjie is vinnig in ’n kar gelaai en inderhaas na die Worcester-hospitaal geneem.

Van daar is Milvino per helikopter geneem na die Rooi Kruis-kinderhospitaal, waar hy vir kop- en nekbeserings behandel is.

Baie van die inwoners was in die wolke toe Milvino Dinsdag by die huis aankom. Almal wou hom toe ’n drukkie gee.

Milvino se mammie, Millicent Arendse (27), kon skaars woorde uitkry.

“Ek dank die Vader dat my seuntjie nog leef, want dit kon so anders gewees het,” het Millicent gesê terwyl die trane van blydskap gerol het.

Ouma Elaine Arendse het Milvino ook styf vasgedruk en ook weer ’n gebed van waardering opgesê.

“Ons almal gaan nou saam in gebed om vir onse Vader dankie te sê vir die tweede kans wat my kleinkind gekry het,” het sy ouma met oë blink van die trane gesê.

April het vir Milvino ’n geskenkie gegee.

“Ek is ook, net soos die familie, baie bly dat hy buite gevaar is.

“Die dokters het gesê dat Milvino vinnig aansterk en dat hy definitief fine sal wees,” het die verheugde April bygevoeg.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters