Verlede maand
Vegtertjie al amper uit ICU
Net dáár: Jaiross Banda wys waar die koeël sy dogter Rubenicia in die kop getref het.  ~ 

DIE klein vegtertjie wat ’n kopskoot gekry het, herstel so mooi in die hospitaal dat sy binnekort uit die waakeenheid (ICU) geskuif gaan word.

Jaiross Banda en Eltheresa Joko, ouers van Rubenicia Joko (6) van Avian Park in Worcester, is in die wolke nadat dokters dié goeie nuus met hulle gedeel het.

Hulle dogtertjie se operasie Dinsdag waaroor Son ook berig het, was ’n groot sukses en sy kan nou op haar eie asemhaal.

Rubenicia sterk tans in die Rooi Kruis-kinderhospitaal aan nadat gangsters se dwaalkoeël haar omstreeks ’n maand gelede getref het.

Banda het gister aan Son gesê hulle kan nie wag dat Rubenicia huis toe gestuur word nie.

Druk deur: Rubenicia Joko laat haar nie deur ’n dwaalkoeël onderkry nie. FOTO VERSKAF

“Dit gaan baie goed met haar. Ek voel sterk sy gaan gesond word,” sê Banda opgewonde. “Ek bid elke dag tot die Here.

Pyp

Volgens Banda het die dokter ook vir hulle gesê hy wil met hulle as ouers praat voordat hulle Rubenicia na die algemene saal toe oorskuif.

Hy verduidelik: “Ek weet nie presies waaroor hulle wil gesels nie. Seker oor haar goeie vordering.

“Al wat ek op hierdie punt weet, is dat hulle haar nie met die pyp in haar keel huis toe gaan stuur nie.

Team Rubenicia: Rubenicia se ouers, Jaiross Banda en Eltheresa Joko, is al van dag een af aan haar sy. Foto’s: Jonathan Lestrade

“Voor sy uit die hospitaal kan kom, moet daai pyp eers uit.”

Intussen worry Banda vreeslik oor sy ander dogter, wat by die huis in Worcester moes agterbly terwyl hulle by Rubenicia se bed waak.

“Ek is nou nog meer bekommerd ná dit wat met Rubenicia gebeur het.

“My ander dogter gaan nog elke dag skool en ons is nie eens daar nie.”

Banda hoop dat hulle gou weer as gesin sal verenig sodat hulle met hulle lewe kan aangaan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters