17 dae gelede
Veediefstalsaak vat lank, kla ou
soek NET justice: Ewert Burger sê hy wag al byna ’n jaar dat die skuldiges aan die pen moet ry. Foto: kallie smit  ~ 

SARON. – Blou gewag.

Só sê ’n man oor ’n veediefstal-ondersoek wat net nêrens kom nie.

Ewert Burger (56) sê speurders sloer al byna ’n jaar met die ondersoek nadat hy ’n veediefstalklag aanhangig gemaak het.

Daar het in Oktober 2019 drie van Burger se beeste uit sy kamp verdwyn.

Hy is dieselfde dag na die veeveilingsterrein in Gouda waar hy twee van die beeste gevind het wat daar verkoop is.

Twee speurders van die polisie se veediefstaleenheid in Worcester wat in die omgewing was, is deur die polisie in Saron na die veilingsterrein ontbied.

Hulle het ook die man ontbied wat die beeste daar kom verkoop het.

Die verkoper het vir Christopher Januarie, wat die beeste aan hom verkwansel het, ook saamgebring.

Januarie, van Saron, is gearresteer en hy het intussen al vyf keer in die hof verskyn, maar Burger word nooit ingelig oor die vordering van die saak nie.

Hy sê: “Ek moet self navraag doen oor hoe hulle met die ondersoek vorder.

“Ek het al met die speurders gepraat wat die ondersoek hanteer, maar ek kry nie antwoorde nie.

Onregverdig

“Die staatsaanklaer wou al die saak van die hofrol verwyder en ek is gedagvaar om in die hof te verskyn vir mediasie omdat die saak nêrens kom nie.

“Ek het geweier om ’n ooreenkoms aan te gaan omdat ek geregtigheid wil laat geskied.

“Die man wat die beeste by Januarie gekoop en toe by die veiling gaan verkoop het, is nie vervolg nie.

“Dis onregverdig, want dié man het valse inligting verskaf toe hy die beeste by die veiling ingeboek het.

“Hy het sy eie brandmerk op die beeste aangebring terwyl myne reeds daarop was.

“Ek kry die indruk die speurders wil hom nie vervolg­ nie, hoewel hy geweet het die beeste is gesteel en hy het bedrog met die verkoopsdokumente gepleeg.”

Toe die speurders die man wat die beeste by die veiling verkoop het, vra waarom hy nie ’n verwyderingspermit vir die beeste gehad het nie, het hy gesê hy weet nie van so iets nie.

Die verwyderingspermit bevat die inligting van die vorige eienaar sodat daar bewyse is dat die beeste wettig bekom is.

Kantoor

Burger sê dié ou, wat welbekend is in Saron en al vir jare saam met sy familie boer, ken die prosedure, want hy het al voorheen vee by die veiling verkoop.

Dié man is aan Son bekend.

Burger het uiteindelik by die polisie se klagtedirektoraat gaan kla oor die gesloer met sy saak.

Volgens lt.kol. D. Petersen van dié afdeling van die polisie se nasionale kantoor in Kaapstad is hulle besig om ondersoek in te stel na die gesloer met die ondersoek.

Burger is ook intussen ingelig ’n senior beampte by die veediefstaleenheid in Worcester hanteer nou die ondersoek na sy klag.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters