23 dae gelede
Vee in pad
Gevaarlik: Beeste loop gereeld oor die R60-streekroete na Swellendam. Foto: BASIL DAVIDS  ~ 

ASHTON. – Rondloperbeeste op die Ashton-Swellendam-pad wek groot kommer.

Amanda Meyer, ’n motoris wat die pad gereeld gebruik, vertel dat sy onlangs amper in ’n bees vasgery het wat houtgerus oor die pad gesuiker het.

Meyer sê die son was gelukkig daai oggend al op en sy het die bees betyds in die pad sien loop.

Maar sy sê die loslopers hier het al baie ander ongelukke veroorsaak.

“Dit is lewensgevaarlik en daar moet drasties iets aan dié situasie gedoen word,” sê Meyer.

Uitswaai

Nog ’n motoris, Charles Lombaard, sê hy ry daagliks van Swellendam na Ashton.

“Ek was ook al ’n paar keer baie gelukkig, want ek moes ook al uitswaai vir beeste op dié pad.”

Volgens hom bly hy maar so paraat moontlik juis oor die gevaar in die pad.

AO Sylvester Joseph, ’n polisiewoordvoerder, sê verskeie pogings is al aangewend om die situasie hok te slaan.

Joseph sê die veediefstaleenheid het ook al met eienaars vergader rakende die merk van hul vee en om die diere weg te hou van die besige pad.

Joseph versoek ook motoriste om veral saans baie versigtig op die stuk pad te wees.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters