Verlede maand
Varkdiewe maak boere se lewe hel
OINK? Hy en al sy tjommies in die hok is nou in gevaar.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Varkboere loop erg deur onder diewe met ’n groot lus vir spek.

Hulle plunder omtrent onder die boere se troppe.

Die boere kla die varke word sommer net daar by die hokke afgeslag.

Net die koppe en derms word agtergelaat.

Volgens die boere het die probleem voor Krismis begin kop uitsteek en tot nou toe is daar kort-kort nog ’n vark missing uit die hokke.

Intussen loop die varke wat hiervoor verantwoordelik is nog los rond.

Felix September, een van die boere, sê dit kom hom baie duur te staan.

September sê: “Die diewe kom in die nag en kom slag die varke.

“Selfs varke wat dragtig is, loop ook deur. Van die ongebore klein varkies se fetusse het oral in die hokke gelê.”

’n Boer wat verkies om anoniem te bly, sê hy het in die laaste paar weke al drie varkies verloor.

“Toe ek by my varkhokke kom, was daar net die koppe van die varke in die hok. Die derms en bloed het oral gelê,” sê die boer moedeloos.

Volgens die boer weet hulle nie wie die skelms is wat vir dié dade verantwoordelik is nie. Hulle het egter ’n vermoede en meen die diewe het ’n afsetplek waar hulle die vleis verkoop.

Beskerm

Volgens die boere verloor hulle nou baie geld. Die meeste van hulle maak ’n bestaan uit boerdery.

“Ons kan nie snags oor onse varke gaan waghou nie, want ons het gesinne wat ons ook moet beskerm,” sê van die boere.

Die boere het reeds ’n saak van veediefstal by die cop shop gaan maak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters