11 dae gelede
Van drank kom dadels

WORCESTER. – Net soos die lockdown sy levels het, is daar ook vlakke van inloop.

So glo ’n paar onnies nadat beloftes van lawaaiwater gedurende die strengste tyd van inperking glo net ydele beloftes gebly het.

Die onnies, wat lede van ’n daaglikse saamry-groep is, het aan Son gesê ’n kollega het hulle gedurende die inperking drank beloof.

Hulle is beloof dat die drank teen R100 cheaper sou wees as die normale pryse.

Aandurf

Die onnies sê hulle het toe vir die kollega se joke geval. Volgens hulle het daai kollega nooit by haar woord gehou nie.

Onnies so ver as Montagu en Bonnievale sê hulle moes die lockdown toe met droë kele aandurf.

Nou is hulle so kwaad vir George Scheepers en sy sussie, Margaret, wat hulle toe nie van die vreeslike Covid-19-dors kom verlos het nie en boonop nie hul geld teruggegee het nie.

Die suster en broer is nou missing in action, kla die onnies, asook die sowat R18 000 wat hulle altesaam vir die onwettige voggies betaal het.

Die onnies sê hulle het gedurende die inperking honderde rande aan George­ gegee om vir hulle drank te koop.

Hulle sê hulle weet die aankoop van ’n dop gedurende die lockdown was onwettig, maar hulle het steeds hul luck getry.

Een onnie het aan Son bevestig dat hy George R1 600 gegee het.

Ander onnies sê hulle het ook in die omtes van R1 200 elk vir die beloofde dop opgedok.

Volgens George was sy onderwyser-suster, Margaret, die organiseerder van die dop-aksie.

George erken dat hy die geld van die onnies ontvang het en sê hy het dit oorbetaal aan ’n man wat die drank sou kom aflewer het.

Hy wil nie sê wie die man is wat almal in die steek gelaat het nie.

In ’n telefoniese gesprek sing Margaret egter ’n ander deuntjie.

Sy sê George­ moet maar self verduidelik wat van die onnies se drank en geld geword het.

Son het ’n voice note gehoor waarin George hand en mond aan die onnie beloof om sy geld terug te betaal.

Dis egter nou twee maande later, maar daar is nog geen teken van die geld of lawaaiwater nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters