20 dae gelede
US vul top-pos
Prof Deresh Ramjugernath
Prof. Deresh Ramjugernath  ~ Foto Verskaf

DIE Universiteit Stellenbosch het vir prof. Deresh Ramjugernath as hul nuwe viserektor: leer en onderrig aangewys.

Ramjugernath (48), tans adjunk-visekanselier vir navorsing aan die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN), vervang vir prof. Arnold Schoonwinkel in die pos. Schoonwinkel het aftree-ouderdom bereik.

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier, sê: “Ons is baie ingenome met hierdie aanstelling. Prof. Ramjugernath is ’n uitstekende kandidaat en goedgekwalifiseerd om die leisels by prof. Schoonwinkel, wat aan die einde van die jaar aftree, oor te neem.

"Hoër onderwys staar reuse-uitdagings in die gesig weens die coronavirus-pandemie. Maar terselfdertyd het daar opwindende geleenthede hulle voorgedoen en ons sien uit daarna om die nuwe landskap van leer en onderrig te verken met prof. Ramjugernath aan die stuur.”

Ramjugernath sê hy is baie opgewonde om hom by "een van die voorste hoëronderwysinrigtings in Afrika aan te sluit".

"Dit word goed bestuur, doeltreffend beheer, beskik oor goeie hulpbronne en die belangrikste van alles – dit het die visie as ’n hoëronderwysinrigting om die lewens van mense te verbeter en ’n beduidende sosio-ekonomiese invloed,” sê Ramjugernath.

“As ’n land staar ons baie uitdagings in die gesig ten opsigte van die maatskaplike en ekonomiese opheffing van ons landsburgers en om voorspoed vir almal te verseker,” sê Ramjugernath.

"Universiteite moet ’n meer betekenisvolle rol speel om ’n direkte uitwerking op die samelewing te hê ten einde hierdie uitdagings die hoof te bied – deur tot maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling by te dra, en deur die voorste skeppers van kennis in die wêreld te wees. Ten einde dit te bereik moet hulle werklik deelnemend en entrepreneuries wees en hulle moet onwrikbaar op transformasie met uitnemendheid fokus.”

Ramjugernath het aan die UKZN gestudeer en het die grade BSc. Ing (Chemies) in 1993, MSc. Ing (Chemies) – wat in 1995 na ’n PhD opgegradeer is – en ’n PhD in Chemiese Ingenieurswese in 2000, behaal.

Ramjugernath sal die pos vanaf 1 Januarie 2021 beklee.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters