14 dae gelede
Twee suicides ruk spogskool
Zara Malherbe  ~ Facebook

DIE hoof van die Hoër Meisieskool La Roch­elle in die Paarl het ouers Vrydag gevra om hul kinders dop te hou nadat twee leerders by dié spogskool twee dae uitmekaar hul eie lewe geneem het.

Ná die dood van Zara Malherbe het Amanda Lochner, skoolhoof van La Rochelle, dié noodkreet aan die ouers gerig.

Zara (17) is in die hospitaal dood nadat sy haar glo geskiet het.

’n Woordvoerder van die polisie, sers. Noloyiso Rwe­xana, sê die polisie is na die hospitaal ontbied.

“ ’n Geregtelike doods­ondersoek is geopen. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek.”

Die dood van Zara, ’n gr. 11-leerder aan dié meisieskool, volg op die afsterwe van Jade Gouws.

Gouws (17), ook in gr. 11, is Woensdag by haar ouerhuis in Drakenstein dood gevind nadat sy haarself om die lewe gebring het.

Die polisie sê hulle het vir haar ’n geregtelike doodsondersoek geopen.

Son verneem ’n derde leerder van die skool is in die hospitaal ná ’n mislukte selfmoordpoging.

Lochner het in ’n brief aan die ouers geskryf: “Ons beleef ’n verpletterende paar uur.

“Koester en hou jou kind naby aan jou in dié tyd.”

Lochner het ook gesê die eind­eksamen gaan voort soos volgens die rooster, maar bygevoeg dat dinge nie vandag normaal sal kan aangaan nie.

Jade is in Oktober tot die skool se verteenwoordigende raad van leerders verkies. Haar vriende en familie het haar beskryf as ’n sonstraaltjie, cheerleader vir haar vriende en iemand wat voluit gelewe het.

Luidens die skool se Facebook-blad was Jade ’n voorbeeld vir haar maats.

“Sy was ’n steunpilaar in die koor en in die musiekproduksie. Sy was by verskeie ander buitemuurse aktiwiteite by La Rochelle betrokke.”

Vrydag het die skool vir haar ’n roudiens gehou. Zara was afwesig.

Dit is nog onduidelik of die twee gr. 11’s vriende was.

Na wat Son verneem, het die leerders se persoonlike kwessies vir hulle te veel geword.

Leerders van die skool het aan Son gesê hulle is aangesê om nie te praat oor wat die twee tieners tot dié daad laat oorgaan het nie.

Debbie Schäfer, die Wes-Kaapse minister van onderwys, het die twee leerders se selfdood betreur.

“Ek is erg ontsteld deur die meisies van La Rochelle se selfdood. Ek het met die hoof gepraat. Sy is verpletterd, maar sy bied leiding.”

Schäfer sê berading is vir die leerders gereël.

“Dis baie tragies as mense ’n punt bereik waar hulle geen ander alternatief sien as om ’n einde aan hul lewe te maak nie. Ek wil leerders wat sukkel om te cope aanmoedig om uit te reik na hul onderwysers.

“Leerders kan ook die Safe Schools hotline by 0800 45 46 47 bel.”

Past. Ettiene van Heerden van die AGS-kerk in die Paarl het intussen die publiek gevra om dringend voorbidding te doen vir die meisies van die skool.

“Ons jong mense beleef geweldige uitdagings. Ons moet ag slaan daarop. Kom ons bid vir hul gesinne, families en vriende, en vir die skool, onderwysers en hoof.

“Ek vra spesifiek dat elkeen sal intree teen dié duiwelse aanslag op ons jeug.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters