ASHTON. – Twee mense is op slag in ’n gru-ongeluk dood.
Die tragiese ongeluk het vroeër in die week omstreeks 07:00 op die Bonnievale-Ashton-pad gebeur.
Volgens AO Sylvester Joseph, ’n polisiewoordvoerder, was ’n Nissan 1400-bakkie in die rigting van Ashton op pad toe die ongeluk by die Zolani-afdraai gebeur het.
Joseph sê daar was drie insittendes in die bakkie toe dit teen ’n paal langs die pad gebots het.
Beserings
Ál drie is uit die voertuig geslinger voordat dit in ’n veld tot stilstand gekom het.
Die bakkie is ’n totale wrak.
Volgens Joseph is twee mense op die toneel dood verklaar.
Die derde persoon is met ernstige beserings na ’n hospitaal vervoer.
Dit is nog onduidelik hoe die bestuurder beheer oor die bakkie verloor het, waarna dit die pad verlaat en teen die paal gebots het.
Die name en ouderdomme van die oorledenes is nog nie bekend gemaak nie.
Joseph sê ’n saak van strafbare manslag word ondersoek.