DE DOORNS. – Een persoon is dood en talle beseer nadat ’n driver beheer oor ’n lorrie verloor het.
’n Video van die ongeluk het in die sosiale media viral gegaan.
Daarin kan ’n mens sien hoe van die beseerdes in ’n ry in die pad lê nadat hulle van die vragmotor af geslinger is.
Volgens ’n ingeligte bron het die ongeluk Maandag omstreeks 06:20 tussen Worcester en De Doorns gebeur. Die ingeligte sê daar was ewe skielik ’n wolkbreuk en die bestuurder het toe beheer oor die voertuig verloor.
Gil
Die lorrie het oor die pad begin swenk en die plaaswerkers wat agterop gesit het, het afgeval.
In die video kan ’n mens duidelik hoor hoe die beseerdes gil, huil en om hulp skree.
Van dié mense het baie ernstige kop- en beenbeserings opgedoen.
Bloed het uit hul wonde gestroom.
Paramedici en lede van die polisie was vinnig op die toneel.
Een persoon is op die toneel dood verklaar.
Die beseerdes is na ’n nabygeleë hospitaal vervoer.
Die polisie ondersoek nou ’n saak van strafbare manslag.

ERG: Die beseerde plaaswerkers lê langs die pad. Foto: Verskaf