Verlede maand
Trippie eindig in ’n tragedie
Amarion Pietersen (11)  ~ Foto Verskaf

ASHTON. – ’n Visvang-trippie verlede Dinsdag het vir ’n gesin in die grootste tragedie denkbaar ontaard.

Hul lieflingseuntjie het verdrink.

Amarion Pietersen (11) se skielike dood het skokgolwe deur die plaas De Heuwel gestuur. Dis enkele kilo­meters buite die dorp.

Amarion se emosionele daddy, Frans Botes, vertel met trane in sy oë sy kind se lyk is Woensdagmiddag uit die plaasdam gehaal.

Sy seuntjie het die vorige dag saam met maatjies by die dam gaan visvang.

Frans sê hy het verneem die laities het met ’n vlot gespeel wat met ’n tou aan die wal van die rivier vasgemaak was.

“Ek het gehoor die drie seuns het op die vlot geklim en die tou het op die een of ander manier losgekom,” vertel hy.

Twee meisies het op die wal gespeel.

Die pa vertel Amarion het toe plat op die vlot gaan sit met sy bene in die water.

Hy wou met sy voete “roei” om die vlot terug by die wal te kry.

Amarion het toe van die vlot af geval en om hulp geskreeu.

Een van die laities het in die water gespring en probeer om Amarion te red.

Die laitie het toe ook in die moeilikheid beland.

Amarion het die krag gehad om saam met sy tjommie na die vlot te swem.

Die laitie kon toe op die vlot klouter.

Klein Amarion het dit nie gemaak nie, want die vlot het stadig van hom af weggedryf.

Nóg ’n klonkie het die tou in die water gegooi en Amarion kon toe daaraan vasklou.

Frans sê die laties het die tou begin trek, maar dit het uit Amarion se hande gegly.

Die pa sê: “Dis toe dat Amarion onder die water verdwyn.”

Die ander twee seuns se pa was ongeveer 100 m weg.

Hy het gehoor die kinders roep om hulp.

Frans sê die pa het hom vertel hoe hy in die dam geduik het om Amarion te probeer red.

“Hy het gesê hy het drie maal afgeduik, maar hy kon Amarion nie red nie,” sê hy.

Die kinders wat oorleef het, is vir berading gestuur omdat hulle die hele ding voor hulle sien afspeel het.

Uitgesien

Katriena, Amarion se mammie, sê sy berus haar by wat gebeur het, maar haar hart sal altyd seer bly.

Amarion sou vandag teruggegaan het skool toe en die knapie het glo baie daarna uitgesien.

Kapt. Jeff Lakey, stasiebevelvoerder, het die voorval bevestig. Lakey voeg by ’n nadoodse ondersoek sal gedoen word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters