3 maande gelede
Tref-en-trap: Man net liggies beseer
ongeluk, gestamp
'n Man het net ligte beserings opgedoen nadat hy in 'n parkeerare omgery is.  ~ skermgreep

DIE man oor wie 'n bakkie in 'n parkeerarea in Stellenbosch gery het, het net ligte beserings opgedoen en is reeds uit die hospitaal ontslaan.

Hoewel 'n video van die voorval Maandag op sosiale media viral gegaan het, het die voorval reeds op 30 April plaasgevind.

In die video wil die bestuurder van 'n bakkie in die verkeerde rigting by die parkeerarea uitry.

Die man, 'n sekuriteitswag, praat dan met die bestuurder en beduie vir hom dat dit 'n one-way is. 

Die bestuurder ry dan doodluiters oor die man en jaag weg.

Die Stellenbosch-munisipaliteit het op Son se Facebookblad gesê hulle is eers Maandag bewus gemaak van "dié skokkende voorval".

"Hierdie voorval word op die sterkste moontlike wyse veroordeel," sê die munisipaliteit.

Manda Matthaei sê op Facebook: "Die mense in daardie parkeerarea ry altyd so vieslik. Hoeveel keer sien mens motors in daardie rigting opry? Mense is so ongeduldig. Voetgangers loop ook net, met kinders en al, agter karre verby sonder om enigsins te kyk. Hierdie is wel onmenslik en ek hoop hy of sy sit binnekort agter tralies."

Leigh-Ann Langeveldt wou weet "hoe de hel" ry mens iemand raak en ry net weg.

"Wat word van die mensdom," wou sy weet.

'n Klag van poging tot moord is reeds geopen.

Die Stellenbosch-munispaliteit vra enigeen met inligting oor die voorval om die polisie te bel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters