ROBERTSON. – Kleuterskole in die Langebergstreek het gister heropen.
Ná ’n paar maande van wegbly as gevolg van die corona-virus kon pappas en mammas hul kinders uiteindelik weer na hul onderskeie kleuterskole neem vir die nuwe skooljaar.
Hier en daar was daar ’n paar haasbekkies wat aan hul mammies se rokke vasgeklou het.
Die juffrouens het die babies sommer vinnig gekalmeer terwyl hul ouers afskeid geneem het.
Son het Maandag by die Kiddies Paradise-kleuterskool in die Droëheuwel-woonbuurt gaan inloer.
Opgewonde
Hier was die kinders toe besig om hul ontbyt te geniet, terwyl ander besig was met prentjies inkleur.
Ander kids het weer opvoedkundige TV-programme gekyk.
Volgens een van die juffrouens, Cathleen Pietersen, het baie van die kids die oggend gehuil toe hul mammies hulle kom aflaai het.
Ander was weer heel opgewonde en kon nie wag om met hul maatjies te speel nie.
Tristan Davids (2) en Dante Vermeulen (3) het hul pap baie geniet.
Dit was dié twee se heel eerste keer by ’n kleuterskool.
Die kinders het vertel dat hulle hul eerste dag van skool sover baie geniet.
“Juffrou leer ons om ons hande gereeld in die badkamer te was. Ons moet ook ons maskers dra en so ver as moontlik van mekaar wees,” sê van die kinders trots.
Beoog
Volgens Pietersen kon hulle hierdie jaar net ’n paar kinders by die skool inneem oor hulle nie ’n oorvol klaskamer wil hê nie.
Pietersen sê hulle beoog om hierdie jaar nóg klaskamers by te voeg om sommer nog heelwat kinders in te neem.