Verlede maand
Tragedie tref ná vreugde
van korte duur: Dawid Arrendorp en Nicolene Louw se bondeltjie vreugde se tydjie op aarde was min. Foto: basil davids  ~ 

ROBERTSON. – ’n Mammie se droom om ’n babadogtertjie in die lewe te bring, het ook groot hartseer gebring.

Nicolene Louw (30) het twee weke gelede die Dinsdag kort ná 22:00 die lewe aan ’n gesonde dogtertjie geskenk.

Louw se boyfriend, Dawid Arrendorp (45), het gesê hy en Louw het nog Dinsdagmiddag sowat 6 km in die berg geloop om vuurmaakhout te gaan haal.

Stadig

Arrendorp sê toe hulle die hout bymekaar maak, het hy opgemerk dat Louw nie so lekker voorkom nie.

“Ek het nog vir haar gesê dat sy dit moet stadig vat en gesê: ‘Nanna, praat met my, liefie. Is jy orrait?’ ” vertel Arrendorp.

Volgens hom het hulle toe met die drag hout terug huis toe geloop.

Louw sê sy het begin om kos vir haar gesin te berei toe sy skielik vreeslike pyne begin kry.

Arrendorp sê dit was so voor 21:00 toe sy van die pyne begin kla het.

“Sy het gesê dat dit orrait is en die pyne is alweer weg.”

Volgens hom wou Louw ook nie hê dat hy die ambulans moet bel nie.

Arrendorp sê dit is asof iets vir hom gesê het dat hy dadelik die ambulansdiens moet bel, want hy was bevrees dat sy sommer op die sitbank waar sy gelê het, in kraam sal gaan.

Hy vertel dit is toe dat hy oplet daar is iets nie pluis met Louw nie.

“Ek het net gesien hoe sy begin skreeu en dit is toe dat ek onse buurvrou vir hulp gaan roep,” het Arrendorp nog voor die tragedie aan Son vertel.

Toe hy en die buurvrou in die wendy by haar kom, het hulle die baby se kop al sien uitsteek.

“Ek het toe die ambulans gebel, maar toe hulle hier aankom, was die baba reeds gebore en het tussen Nico­lene se bene aan die naelstringetjie gehang.”

’n Skaam Nicolene het toe nog vertel dat, nadat die naelstring geknip is, is sy en die baba na die hospitaal vervoer.

“Die nurse het gesê dat ek en my baba fine is, en ons gaan vir die nag daar oorslaap,” sê sy toe.

Louw het nog aan Son gesê dat sy en haar boy­friend hul baby baie gaan geniet.

Die onlangse Paasnaweek het hulle egter die skok van hul lewe gekry.

Die baba het nie meer asemgehaal nie.

Die couple het toe die ambulans ontbied. Nooddienspersoneel het hul pienkvoetjie toe dood verklaar.

Volgens die couple aanvaar hulle dat hul kindjie nie meer met hulle is nie en blameer niemand vir haar skielike dood nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters