5 dae gelede
Traffic-hoë geskors oor k-woord
Geskors: Denvin Maart is hangende ’n ondersoek geskors.  ~ VERSKAF

WORCESTER. – Die Wynland Distriksmunisipaliteit se verkeershoof is geskors.

Dié skorsing kom nadat Denvin Maart, ’n getroude pa van drie kinders, glo rassistiese uitlatings teenoor ’n vroulike werker op ’n sosiale netwerk gemaak het.

Daar is glo WhatsApp-boodskappe wat sy en Maart oor en weer na mekaar gestuur het en die vroutjie het toe skermgrepe van dié chats gemaak.

In een van die boodskappe verneem Son dat Maart gal braak en ook dan die k-woord in een van sy boodskappe gebruik.

Die vrou het toe die boodskappe aan Maart se hoof gewys en dit gerapporteer.

Maart is onlangs uit sy pos geskors en sal dissiplinêr verhoor word.

JP Myburg, ’n munisipale woordvoerder, het Maart se skorsing bevestig.

Myburg sê die bewerings word tans intern ondersoek en daarom kan hulle nie in hierdie stadium enige besonderhede van hierdie saak bekend maak nie.

Verlof

“ ’n Interne proses, met ondersteuning van ons kundige regspan, lei ’n deeglike ondersoek na die aangeleentheid.

“Ons sal in die beste belang van almal optree,” het Myburg verduidelik.

Maart is om kommentaar genader, maar het nie ons oproepe beantwoord nie. ’n WhatsApp-boodskap wat na hom gestuur was, is ook net gelees.

Son het ook probeer om die beweerde skelmpie te kontak, maar haar foon is nog die heeltyd af. ’n Kollega sê dat sy tans met verlof is en eers volgende maand weer by die werk sal wees.

Son vra verskoning

SON het op 24 November berig oor die skorsings van die verkeershoof, Denvin Maart.

In die berig “TRAFFIC HOË GESKORS OOR K-WOORD” word daar berig oor Maart se skorsing nadat hy na bewering die k-woord in ’n WhatsApp-gesprek aan iemand anders genoem het.

Daar word melding gemaak dat Maart die verkeershoof by die Wynland-distriksmunisipaliteit is.

Maart is egter Breedevallei-munisipaliteit se verkeershoof en nie Wynland-distrik s’n soos daar in die artikel staan nie.

Jo-Anne Otto, ’n woordvoerder van die Wynland-distriksmunisipaliteit, sê in terme van Seksie 84 van die Plaaslike Regerings: Municipal Systems Act, 1998 (Act No 117 van 1998), is verkeersdienste nie ’n funksie van distriksmunisipaliteite nie.

Son vra om verskoning vir hierdie verwarring en verkeerdelike assosiasie van Maart met die Wynland-distriksmunisipaliteit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters