21 dae gelede
Toerisme gáán weer ‘boom’

DIE nasionale minister van toerisme, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, het onlangs besoek afgelê in die toeristedorpie Franschhoek as deel van die plaaslike reisaktiveringsveldtog.

Dit volg nadat pres. Cyril Rama­phosa die land na vlak 1 van die nasionale lockdown geskuif het.

Die rede vir die besoek was om met verskeie belanghebbendes te vergader oor die impak van die Covid-19-pandemie op toerismeondernemings in die omgewing.

Kubayi-Ngubane het ook verskillende toeristeattraksies in die omgewing besoek om dié sektor aan te spoor om aan regulasies te voldoen.

Die minister het Donderdag gesê hulle hoop toerisme sal oor die Paastyd optel.

Sy het egter bygevoeg hulle dink nie dit sal veel herstel nie.

Volgens Kubayi-Ngubane is daar wel baie belangstelling en navrae oor die einde van die jaar.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane
Koppe saam: Mmamoloko Kubayi-Ngubane vergader Donderdag met belanghebbendes in Franschhoek.

Dit lyk asof die maande van September tot Desember darem weer meer toeriste sal trek, met baie internasionale toeriste wat weer sal kom besoek aflê.

“Ek wil Suid-Afrikaners waarsku om nóú al te kyk na hul Desembervakansie, want ek kan julle waarborg julle gaan sukkel om plek te kry omdat die internasionale mark terugkom.”

Kubayi-Ngubane sê hul eerste prioriteit is die herstel van die toerismebedryf in die plaaslike mark. Daarna sal fase twee op die internasionale mark fokus.

Een van die goed wat vir die minister uitgestaan het van die toerisme-omgewing is die tuk-tuk-taxi-dienste.

Kyk net so! Die minister in een van die tuk-tuk-taxi’s.

Drink

Tuk-tuks is gemotoriseerde driewielvoertuie wat as taxi gebruik word om toeriste van een plek na ’n ander te karwei.

“Die meeste toeriste wat veral wynplase besoek, wil hul kar parkeer en hulself geniet. Die tuk-tuks is daar sodat mense nie hoef te drink en bestuur nie,” sê sy.

Kubayi-Ngubane voeg by dit is ook vir haar interessant om te sien hoe baie van die restaurante wat meestal op internasionale toeriste gefokus het met hoë pryse, hul pryse afgebring het om die plaaslike mark te akkommodeer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters