2 maande gelede
‘Tikkop steek hokke brand’
HET NIKS: Kalie Juries sê sy het alles in die brand verloor.  ~ Abrie Burger

FRANSCHHOEK. – Drie gesinne van hier is al vir ’n week dakloos nadat ’n tikkop sy broer se hokkie na bewering aan die brand gesteek het.

Die brand het binne enkele minute na die erf langsaan versprei en drie hokkies verwoes.

Johan Abrahams (28) van die woonbuurt Groendal sê sy broer het laas Dinsdag windverwaaid by die huis aangekom en sy jam gesoek.

Ná ’n stryery oor wie dit gevat het, het hy volgens Abrahams gedreig om die hok af te brand.

Abrahams sê hy het geloop, maar was nie ver nie toe hy die vlamme van die pad af sien.

Hy sê dis omdat sy broer terpentyn gebruik het dat die brand so vinnig versprei het. Hy kon niks red nie.

Kalie Juries (60), Abrahams se buurvrou wie se linkerbeen geamputeer is, sê sy moes uit haar hok gesleep word.

“My kunsbeen en valstande het ook uitgebrand. As ek hulle nie teruggestuur het om my rolstoel uit die vlamme te gryp nie, sou ek nie nou kon beweeg nie,” vertel sy.

Juries sê ná sy gered en uitgesleep is, het sy net teruggekyk en begin huil.

“Dit was baie seer vir my. Die trane is daar, maar ek moet glimlag.”

Marthina Fischer (29), Juries se dogter, sê sy en haar kinders het 20:30 pas gaan lê toe hulle besef die hok is aan die brand. In ’n japtrap moes sy haar kinders en ma by die hok uitkry.

VERWOES: Marthina Fischer en Vernon Owies gaan deur die brandrommel. Foto: Abrie Burger

Dawie Samuels (73) sê hy het nog gedink hulle maak ’n joke.

Sy selfoon en ’n R800 wat hy gespaar het vir ’n kas en kooi, is nou daarmee heen.

Beskerm

Die gesinne sit sedertien sonder heenkome.

Hulle slaap vir nou voor in die erf en gebruik seile om hulle teen die koue en reën te beskerm.

Die families sê geen klag is nog by die polisie gelê nie, maar hulle beplan om een in die Paarl te gaan lê.

Enige een wat die families kan bystaan, veral met boumateriaal, kan Jacqueline Fagan by 078 227 8717 bel.

SKADE: Johan Abrahams kyk nog wat te redde is ná sy broer na bewering amok gemaak het. Foto: Abrie Burger

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters