15 dae gelede
Tiep-tuiste maak mense net moerig
vullis
MAAK SKOON: Die kontrakwerkers van die munisipaliteit verwyder die vullis.  ~ Anele Mfazwe

PAARL. – Inwoners van Lantana beweer die Drakenstein-munisipaliteit behandel hulle soos vullis.

Dít volg nadat dié munisipaliteit vroeër vanjaar ’n stortingsterrein in die middel van hul woongebied geopen het.

Die burgemeester, Conrad Poole, en ander raadslede het dié dumping site laas Woensdagoggend amptelik in Magnolia­straat geopen.

Inwoners is diep vies en beweer hulle is nooit ingelig oor die stortingsterrein wat hier tussen hul huise opgerig is nie.

Die inwoners kla dat die dumping site hulle nou aan siektes blootstel en dat dit ook die uithangplek geraak het vir skollies wat daagliks tot in die aand koper brand.

Caroline Steven sê sy het in haar jonger dae op plase gewoon maar selfs daar het sy nooit onder sulke morsige omstandighede moes bly nie.

Steven (71) sê: “Ek is ’n plaasjapie. Dis die eerste keer dat ek so ’n morsigheid sien. Ek het al siek geraak met ’n maagvirus.

“En wat van ons kleinkinders? Daar word pou-pou, pie, selfs dooie honde en dooie katte weggegooi. Een van die dae kry ons ’n dooie mens wat daar weggegooi is.

“Dis nie reg nie. Brommers swerm en draai rondom die stinkende vullis.

“Wat dink die munisipaliteit van ons om ’n vullisplek hier te kom oopmaak? Sal die burgemeester (Poole) toelaat dat daar so ’n plek in sy straat geopen word?”

Grondwet

Volgens Steven het die munisipaliteit nie voor óf ná die launch vir die inwoners gevra hoe hulle oor die stortingsterrein voel nie.

Edgar Arendse, koördineerder van die Good-party in die Boland, is nou moeg van hoe die DA-beheerde munisipaliteit die mense behandel.

Arendse merk op: “Dis teen die land se grondwet om iets te doen wat mense raak sonder om met hulle te konsulteer. Dis nou genoeg. Ons gaan nie meer toelaat dat ons mense só behandel word nie.”

Volgens hom beplan die Good-party ’n optog na die munisipale gebou. Hulle gaan ook ’n petisie opstel wat eis dat die munisipaliteit die inwoners se belange hul eerste prioriteit maak.

Marius Wüst, uitvoerende direkteur vir ingenieursdienste in die munisipaliteit, sê hulle het besluit om die klein drop-off site daar te open, want die betrokke stuk grond is reeds ’n onwettige stortingsterrein.

Rede

Wüst sê verder dat daar binnekort ’n soortgelyke stortingsterrein gaan oopmaak in die area waar die mayor woon.

Hy sê verder die rede waarom die drop-off site geopen is, is juis omdat die munisipaliteit bekommerd is oor die inwoners se gesondheid en veiligheid.

Volgens Wüst is dit sodat mense vullis in ’n “gestruktureerde, beheerde, wettige en verantwoordelike manier” kan verwyder en nie sommer net op enige plek gaan stort nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters