Verlede maand
Tiener in oogwink verlamde
VREESLIK: ’n Lewenslustige Zhane Benn is nou in ’n rolstoel.  ~ Foto Verskaf

WORCESTER. – Die tienerlewe van ’n gr. 10-leerder van die Hoërskool Esselenpark in Worcester is onlangs in ’n oogwink in ’n nagmerrie omskep toe ’n motor hom teen ’n hoë spoed van sy fiets afgery het.

Zhane Benn (18) het wonderbaarlik oorleef nadat ’n tweede voertuig daarna bo-oor hom gery het.

Albei bestuurders het weggejaag. ’n Derde motoris het egter gestop en die polisie en ambulans ontbied.

Die seun se ma, Chantal Cupido, het in ’n hartseer stem aan Son vertel hoe haar seun se ongeluk die gesin se leefwyse heeltemal verander het.

“Geen dokter het enige hoop gehad dat my seun sou oorleef nie.

“Ek het egter gebid en geglo dat die Here my seun sal deurdra.”

“Zhane is op Sondagaand 28 Maart omstreeks 20:30 in Le Sueurstraat deur ’n motor van sy fiets afgestamp.

Gewys

“ ’n Tweede motor het toe bo-oor hom gery, en soos die eerste bestuurder, weggejaag sonder om te stop.”

Sy vertel hulle was nie bewus van die ongeluk nie totdat ’n cop hulle kom vertel het.

“Hy het foto’s op ’n tablet aan my gewys en gevra of ek die seun ken.

“Ek het my tablet dadelik herken en ook omdat ek geweet het Zhane het dit gehad.

“Ek wou dadelik by hom weet waar my seun is.”

Volgens haar het die polisieman gesê dit lyk nie of hy dit gaan maak nie en hy het hulle hospitaal toe geneem.

Zhane het breinskade gehad en ál die bene in sy gesig en talle ander bene in sy lyf was gebreek.

“Zhane was toe reeds in ’n koma en aan ’n ventilator gekoppel om hom aan die lewe te hou.

“Ek het geweier om te glo dat hy sal sterf en het dadelik voor sy bed begin bid.

“Dit is net gebed wat gemaak het dat hy vandag nog lewe. Ons eer die Here. Ons sê dankie vir die Here vir sy lewe, al is dit in ’n rolstoel.

“Wat die hartseerste van alles is – voor die ongeluk was Zhane ’n baie aktiewe jong man,” het sy ma gesê.

Zhane, wat nou niks vir homself kan doen nie, moet nog gereeld vir spraakterapie ingaan na die Worcester-hospitaal.

“Ons smeek Son-lesers om ons asseblief te help, om die lewe van ons verlamde seun meer gemaklik te maak.”

Cupido-hulle bly in ’n bungalow op ’n erf en het nie die geld om te bou nie.

“Die bungalow lek as dit reën en daar is nie geld om ’n kamer vir Zhane se gerief te bou nie.

“As mense ons net kan help om vir Zhane ’n kamer met toiletgeriewe te kan aanskaf, sal ons dit regtig waardeer.

“Hy sit in ’n rolstoel en kan niks vir homself doen nie. Ons moet alles vir hom doen.

“Nie dat ons omgee nie, maar om sy onthalwe vra ons dat mense ons asseblief help,” vra Shantel.

“Mense kan my bel by 065 310 6173. En enige donasie­ kan inbetaal word by Capitec, rekeningnommer: 114 5095 354 – CM Cupido.”

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het die voorval waarin die seun beseer is, bevestig.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters