22 dae gelede
Taxi-staanplek dalk gesluit
GEKONFISKEER: By die Mbekweni rank in die Paarl is op twee 9 mm-pistole beslag gelê.  ~ Foto Verskaf

DIE voortslepende taxigeweld kan die Wes-Kaapse regering met geen ander keuse laat nie as om die Mbekweni taxi rank te sluit.

Al die pogings om vrede te bewerkstellig tussen die Boland Taxi Association, wat geaffilieer is by die Cape Amalga­mated Taxi Associa­tion, en die Paarl Alliance Taxi Associa­tion, wat geaffilieer is by die Congress of Democratic Taxi Associations, het nog geen vrugte afgewerp nie.

Tot dusver vanjaar is ag mense afgemaai in dié taxi-oorlog. Dit hou verband met roetes, veral die hoogs betalende roete tussen Mbekweni en Bellville.

Die Wes-Kaapse minister van vervoer, Bonginkosi Madikizela, en sy nasionale kol­lega, Fikile Mbalula, het onlangs met die hulp van ’n bemiddelaar met die taxi-base in die Paarl vergader.

Dit was ’n poging om die bloedvergieting te stop.

Die skietvoorvalle het egter selfs ná hierdie pogings voortgegaan.

Vrydag omstreeks 18:30 is sewe mense by die Wamkelekile rank in Mbekweni in hegtenis geneem, sê die polisiewoordvoerder kapt. FC van Wyk.

Die gearresteerdes is van 21 tot 49 jaar oud.

Volgens Van Wyk het die arrestasies gevolg nadat cops inligting gekry het dat drivers en guards vuurwapens in hulle taxi het met die doel om hulle vyande te skiet.

Die polisiebeamptes het die taxi’s deursoek. In een van die voertuie is twee 9 mm-pistole, magasyne en ammunisie gekry.

Beveilig

Die sewe verdagtes word aangekla van die onwettige besit van vuurwapens en ammu­nisie.

“Daar is ook beslag gelê op ag selfone,” sê Van Wyk.

Madikizela se woordvoerder, Ntomboxolo Makoba-Somdaka, het gesê die provinsiale departement van vervoer berei die relevante dokumente voor vir ’n moontlike sluiting van die rank in Mbekweni. “Ons hoofdoel is om die lede van die publiek te beveilig,” het Makoba-Somdaka gesê.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters