Verlede maand
Talle werkers deur brand geraak

TUSSEN 500 en 700 permanente en seisoenale-werkers is geaffekteer, nadat 'n brand die Stellenpak-vrugtepakhuis in Simondium vernietig het.

Die brand het Woensdagaand miljoene rande se skade veroorsaak, en selfs masjienerie het in die slag gebly.

Rita Andreas, mayco-lid van Drakenstein-munisipaliteit, vertel dat verpakkingsmateriaal ook groot brand en rookskade opgedoen het.

Andreas, wat Woensdagaand op die toneel was, sê: "Gelukkig is niemand weens die brand beseer of dood nie."

Sy voeg by dat die permanente werkers is tans by die huis en word deur die bestuur van die Stellenpak gehelp om die beste manier te vind om mense weer aan die werk te kry.

"Die seisoenwerkers se terugkeer sal grootendeels afhang van hoe vinnig die bedrywighede herstel kan word."

Impak

Intussen is werkers hartverskeurend oor die brand wat alles in puin gelê het.

Wilfred Arendse, wie reeds 31 jaar daar werksaam is, was aan diens toe die voorval plaasgevind het.

Hy en vyf ander was besig in die koelkamers toe hulle agterkom die plek is aan die brand.

Toe Son met hom praat was Arendse nog nie oor die skok nie. Hy is wel verlig dat niemand seergekry het nie.

Hy noem: "Ek is ook hartseer oor diegene wie nou sonder werk gaan sit."

Nog 'n werker wie reeds geruime tyd daar werk het nie haar hartseer weggesteek nie.

Sy noem: "Dit voel soos 'n skielike dood.

"Om te dink 'n paar uur gelede was ek nog daar en nou is dit weg."

Die werker, wie gevra het om anoniem te bly, vertel dit is hartseer om te sien dat alles waaraan jy as werker help bou het nou in puin is.

"Ek was gelukkig en het saam met die fabriek gegroei." 

Sy is ook bekommerd oor diegene wie nou sonder 'n werk gaan sit, baie van hulle enkelouers.

Volgens haar het die fabriek ook baie geleenthede aan die werkers en hul gesinne gebied, met opleiding en internskappe.

Delmarie Damons, 'n inwoner naby die fabriek en buurtwaglid, sê hulle was bang die brand sou versprei na die huis, wat net 'n paar meter weg is.

"Ons was veral bekommerd oor die bejaardes wat daar naby woon." 

Son het uitgereik na die bestuur van Stellenpak, maar hulle was nie dadelik beskikbaar nie. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters