15 dae gelede
Talle sien rooi oor huise
BESTORM: Ontevredenes sak toe sommer op winkels toe en begin dit plunder.  ~ Foto Verskaf

MONTAGU. – Talle mense is Vrydag gearresteer nadat die Rooimiere die huisies in ’n plakkerskamp in Ashbury afgebreek het.

Son verneem dat die Langeberg Munisipaliteit die Rooimiere opdrag gegee het om dit te doen. Volgens inwoners weet hulle nie wat die redes is nie.

Toe die Rooimiere die huisies een ná die ander sommer so bo-op die inwoners afslaan, het van die mense teruggeveg.

Dinge het erg handuit geruk en die polisie moes kom ingryp.

Volgens ’n ooggetuie het die cops wild onder die inwoners begin skiet.

’n Man vertel ’n rubberkoeël het hom op die neus getref en sy oog net-net gemis.

Oom Pieter Salmon vertel hy het nog rustig in sy huisie gesit, toe hy skielik hoor hoe iemand teen die plate slaan.

Salmon sê hy het gedog dis iemand wat try om by sy shack in te breek.

“Toe ek na buite gaan, sou ek net sien hoe ’n klomp jongens besig is om my hok af te breek.

“Toe ek wou weet wat aangaan, het die een verwaande vent my met die arm gestoot dat ek val.”

Bedaar

Dinge het verder handuit geruk en mense het ook begin om winkels van buitelanders te plunder. Cops het oral probeer om mense tot orde te roep.

Toe die situasie uiteindelik bedaar, het mense maar net weer begin om hulle huisies op te slaan.

Sers. Suria Meyer, ’n polisiewoordvoerder, bevestig dat talle mense vir oproerigheid en eiendomsbeskadiging in hegtenis geneem is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters