Verlede maand
Talle rus min op sabbat oor storm
dakloos: Hilliët en Caroline Hartnick is nou sonder blyplek nadat die gure weer hulle woning erg beskadig het.Foto: Clive Pretorius  ~ 

SLANGRIVIER. – ’n Hewige storm hier het Sondagoggend minstens vier gesinne groot skade berokken toe stormsterk wind en reën hulle huise getref het.

Die ergste skade is aan die huis van ’n middeljarige paar.

Hulle het in ’n oogknip so te sê ál hulle besittings verloor toe hulle huis in die storm verwoes en die meeste van die inhoud erg beskadig is.

Hilliët en Caroline Hartnick, albei 49 jaar oud, en hulle vier seuns se huis is in puin gelaat toe die ramp hulle knap voor 10:00 getref het.

Hulle jongste seun (19) is serebraal gestrem.

’n Erg geskokte Caroline vertel dat sy kos gekook het terwyl haar man kerk toe was.

“Toe ek die slag hoor en opkyk, het ek gesien my dak word afgewaai. Ek het net om hulp geskree en na my kamer gehardloop en my oor my jongste, Adrian, gegooi om hom teen die reën en wind te beskerm.”

Die dak het sowat 15 m verder af in die straat te lande gekom.

“Sjoe, dit was vreeslik, ek wil nie weer deur so iets gaan nie,” het sy steeds geskok gesê terwyl sy by haar bure skuiling soek.

Hilliët self was erg geskok toe hy die nuus kry. Hy het hom vinnig terug huis toe gehaas om sy vrou en seun by te staan.

Beskerm

Volgens die egpaar het hulle bure hulle onmiddellik te hulp gesnel en probeer doen wat hulle kon om die gesin in hulle uur van nood by te staan.

Die plaaslike rampbestuurpersoneel was ook gou op die toneel om die gesin te help om hulle besittings teen die gure weer te beskerm.

Die wyksraadslid, Gerald Boezak, asook Hermanus Michaels, ’n behuisingsbeampte van die Hessequa-munisipaliteit, het ná die kerkdiens die gesin besoek om hulle te ondersteun.

Die onmiddellike toekoms vir die gesin lyk maar droewig, want hulle is aan hulle bure, familie en vriende se genade oorgelaat.

Nog ’n gesin het in De Kloof deurgeloop toe die sterk wind hulle huis se dak ook afgeruk het.

Twee houthuise in Dollar Square is ook erg deur die swaar reën beskadig.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters