10 maande gelede
Talle kla oor haweloses
siesa: Die traders blameer die haweloses vir die erge stank. Volgens hulle gebeur lelike goed op die plein.Foto: Mark Mentor  ~ 

SIES, dit stink!

So kla besigheidsmense en ’n skool in Ceres oor die geweldige stank wat daagliks in die lug hang. Hulle blameer haweloses wat hul intrek op die plein in die middestad geneem het.

Die plein, wat oorkant die ­Primêre Skool Morrisdale geleë is, word veral naweke deur informele traders gebruik.

Die beswaardes sê hulle het al heelwat vergaderings met die munisipaliteit gehou, maar daar het niks van gekom nie.

Die skool en huiseienaars het ook nou begin kla oor die gedrag van die mense op die perseel.

Volgens die inwoners vloei die drank en vloektaal vrylik en doen die mense hul ding sommer oop en bloot. Een inwoner sê haar kinders aanskou daagliks alles, maar as ’n mens jou mond oopmaak, target hulle jou.

Die munisipale bestuurder, ­David Nasson, het op ’n onlangse vergadering gesê daar word aandag aan die probleem gegee.

Nasson sê daar moet ’n oplossing gevind word wat aan die haweloses permanente verblyf kan verskaf.

’n Inwoner sê daar sou gou oplossings gevind word as die mense oorkant ’n wit skool gewoon het.

Jonathan Nel, ’n gemeenskapleier, sê hulle verstaan die mense se behoeftes, maar dat daar ook skollie-elemente tussen die mense ingetrek het. “Daar word gereeld kondome, bollie en ander gemors opgetel. Hier gaan te veel lelike goed aan.

“Die munisipaliteit, polisie en maatskaplike organisasies moet saamkom en kyk na oplossings.

“Die toiletgeriewe is nie eens meer in ’n bruikbare toestand nie,” het Nel gesê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters