27 dae gelede
Sy skooljaar fade oor hare
SOEK ANTWOORDE: Victoria Banies sê sy wil weet of haar kind se onderrig nie belangriker as sy hare behoort te wees nie.  ~ Foto Verskaf

’N LEERDER is glo huis toe gepos oor sy hare nie “reg” gesny is nie.

Conlan Banies (16), wat veronderstel is om in sy derde jaar by die Nuwe Hoop-sentrum vir gehoorgestremdes in Worcester te wees, kan nog nie met sy nuwe skooljaar aan die gang kom nie.

Dít te danke aan sy nuwe fader-haarstyl waarmee die skool glo nie impressed is nie.

Bekommerde

Conlan se ma, Victoria Banies, sê sy het altyd gedog haar seun wil maar net nie skool toe gaan nie – totdat sy uitgevind het haar klong se hare is ’n probleem vir sy skool.

Volgens die bekommerde mammie was daar al die derde dag van die skooljaar probleme toe die skool se maatskaplike werker haar gebel het.

“Die maatskaplike werker het my gebel en gesê my kind se hare is nie reg gesny nie.

“Sy vra toe of hulle dit self kan sny, maar ek sê toe ons sal dit doen, want ek het gehoor hulle laat sommer ander leerders toe om kinders se hare te sny,” vertel die mammie.

Banies sê nadat hulle Conlan se hare self laat sny het, was die skool steeds nie tevrede nie.

“Hulle het hom wéér teruggestuur huis toe, hierdie keer omdat ek nie saam met hom by die skool opgedaag het nie.

“Die reëls is dat leerders se hare nie snaaks gesny kan word nie.

“Hulle mag nie faders dra nie en mag ook nie dreads het nie.

“My seun se hare was nie snaaks gesny nie. Dit was netjies.

“My kind se skoolboeke is leeg en toe ek hom hieroor uitvra, sê hy dis oor hy nooit in die klas kan wees nie omdat hy elke keer oor sy hare na die hoof se kantoor moet gaan.”

Banies sê sy soek nou antwoorde.

“Is my kind se hare dan nou nie goed genoeg vir hom om onderrig te ontvang nie?

“Ek mean maar, dis elke keer moeilik om geld in die hande te kry om hom by die skool te kry. Dan word hy oor sy hare huis toe gestuur.

“Ek het ook aan die skool verduidelik dat ek nie sommer net uit my werk kan bly nie, maar dit lyk nie hulle wil verstaan nie.”

Son het die Nuwe Hoop- skool om kommentaar genader.

Ondersoek

Die hoof, Ernest Humphreys, was volgens die sekkie nie beskikbaar nie.

Hy het by monde van dié sekkie laat weet dat die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) oor die voorval genader moet word.

Volgens ’n WKOD-woordvoerder, Millicent Merton, ondersoek hulle tans die omstandighede rondom Conlan se haredebakel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters