3 maande gelede
Swembad kry tweede asem
Goeie werk: Jeugdiges is steeds besig om die swembad reg te ruk. Foto: BASIL DAVIDS  ~ 

ROBERTSON. – Die bodorp se vervalle swembad gaan binnekort ’n makeover kry.

Trouens, jong mense het klaar begin om die swembad skoon te maak nadat dit al jare gevandaliseer is.

Die swembad het ontaard in ’n groot kopseer toe tikkoppe naweke daar begin uithang het.

Maar sedert die begin van die jaar het jong laities die swembad begin skoonmaak.

Hulle het letterlik vragte rommel verwyder en onlangs begin om sokkertoernooie vir klubs in die omgewing aan te bied.

Volgens die organiseerders is hulle baie bly dat hulle nou ’n plek het om sport te beoefen.

Standaard

Cedric Bruintjies, ’n sokkerliefhebber, sê die swembad was eens op ’n tyd een van die pragtigste swembaddens in die Breëriviervallei.

Bruintjies sê die swembad was daai jare van Olimpiese standaard en groot kompe­tisies is daar aangebied.

“Dis ons eie mense wat verantwoordelik was vir die agteruitgang van die swembad,” sê Bruintjies.

Hy sê die meeste van die skoonmaakwerk is reeds gedoen en die swembad is nou so te sê skoon.

Hulle beplan nou om die binnekant te versier.

Die plan is om die hele swembad met graffiti te versier sodat dit volgens hom “mooi aantreklik” kan wees.

Volgens Bruintjies is almal welkom om hulle gewig te kom ingooi.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters