3 maande gelede
Suur water: Stad spring eindelik in
Helpende hande: Susan Ripepi is bly die Soetwaterrivier in die Strand word skoongemaak.Foto: ian baard  ~ 

DIE stadsraad van Kaapstad het begin om die Soetwater­rivier in die Strand skoon te maak.

Volgens Susan Ripepi, wat al meer as 38 jaar oorkant die rivier woon, is dit die eerste keer dat dit skoongemaak word.

Sy vertel dat sy al baie kere by die stadsraad se gesondheidsdepartement gaan kla het oor die gesondheidsgevare wat dit inhou, maar hulle het hulle min aan die klagtes gesteur.

Vererger

Sy sê sy het gekla oor die kakkerlakke, muskiete en groot rotte wat hulle gedurig verpes het.

Ripepi vertel: “As ek gaan kla het, het hulle net mense uitgestuur en dan is daar foto’s geneem, maar niks het gebeur nie.

“Die situasie het vererger toe daar rou riool in die rivier gestort is.”

Die Soetwater­rivier loop deur die spogwoonbuurt Greenways en mond in die see by Valsbaai uit.

Die situasie was een jaar so erg dat kinders en twee onderwysers van die Primêre Skool Dr. GJ Joubert siek geword het.

Dan is daar die kere dat ’n onheilige stank soggens en saans oor die gebied van Rusthof gehang het as gevolg van die vuil rivier.

Son het verskeie berigte oor die rivier geskyf.

Toe Son die gebied by Ri­pepi se huis gaan besoek het, het werkers van ’n kontrakteur wat die skoonmaak van die rivier behartig pikswart modder verwyder onder die brug waaroor die Gordonsbaai-pad loop.

Ripepi sê sy hoop die stadsraad gaan die rivier van nou af gereeld skoonmaak.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters