20 dae gelede
Student val: poging tot moord ondersoek
Die venster waaruit Taylië Jaap geval het. Foto: Edrea du Toit  ~ 

’N SAAK van poging tot moord word nou ondersoek nadat ’n student van die Universiteit Stellenbosch (US) omstreeks twee maande gelede 7 m uit die Serruria-koshuis se venster geval het.

Taylië Chamondré Jaap (19), ’n BSc-student in haar eerste jaar, is Vrydag uit die Karl Bremer-hospitaal in Bellville ontslaan nadat sy ag weke in ’n hospitaalbed moes deurbring.

Volgens ’n bron keer Jaap vandag terug na die US.

Jaap het vroeg in Julie aan Netwerk24 onthul iemand het haar doelbewus by die venster uitgestamp. Nou is sy uit vir justice. Jaap woon by haar oom Hein Leonard en sy vrou, Charmaine, in Lambertsbaai.

Die Leonards het haar voogde geword ná haar ma se afsterwe ’n paar jaar gelede.

Uitgestamp

Jaap was laas jaar hoofmeisie by die Hoërskool Schoonspruit in Malmes­bury. Sy het skedelbreuk aan haar voorkop en ’n breinbesering opgedoen. Die bloeding op haar brein is kort daarna gedreineer.

Die dapper meisie moes van voor af leer lees. Sy moes ook weer leer loop omdat sy so lank in die hospitaalbed gelê het dat haar bene glo soos spaghetti gevoel het.

Volgens die bron gaan dit nou baie beter met Jaap. Son het vertroulik verneem wie die “vriendin” is wat Jaap vermoedelik by die venster uitgestamp het, maar dié antwoord geen oproepe of boodskappe nie.

Siyabulela Malo, ’n polisiewoordvoerder, bevestig ’n saak van poging tot moord is teen die beskuldigde aanhangig gemaak. Malo sê Jaap het reeds ’n verklaring by die polisie afgelê.

Die bron sê Jaap is weer haar “ou self”.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters