Verlede maand
Storm bring skade in Boland
VERWOES: Gavin Pietersen en sy gesin moes die nag buite gaan slaap.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – ’n Stormsterk wind het verwoesting gesaai en talle inwoners se shacks plat gewaai.

Woensdag het die wind so sterk gewaai dat mense van die Angel Eyes-plakkerskamp uit hul shacks gevlug het.

Die stormwinde het ses huisies omgewaai. Gelukkig vir die inwoners het niemand ’n skrapie opgedoen nie.

Maria Swartland vertel sy woon stoksielalleen in haar houthuisie.

“Ek het vroegoggend wakker geword. Dit het soos ’n bom geklink wat in my huis ontplof,” vertel Swartland.

Swartland sê sy het vir ’n oomblik gedog die gasstofie het ontplof, maar toe sy opkyk, was die nagdonker uitspansel haar ceiling.

“My hele huis het skuins gelê. Ek het net een ding op my gedagte gehad en dis om uit die huis te vlug voordat die planke op my val.”

Aankom

Volgens Swartland het haar larney uitgesteek en gehelp om haar huisie reg te maak.

’n Klipgooi vanaf Swartland se erf het ’n wendyhuis ook in die slag gebly.

Die eienaar was nie tuis toe Son daar aankom nie.

Mense in die omgewing sê kort nadat sy wendy platgewaai het, het die man onder die planke en puin uitgekruip en die pad gevat.

Gavin Pietersen en sy gesin was gelukkig.

“Ons het betyds uit ons huis gevlug toe ’n deel daarvan plat gewaai is. Ek en my gesin moes die res van die nag buite onder komberse slaap, want dit was onveilig in die huis.”

Gister het mense boumate­riaal aan inwoners geskenk wat erg geraak is.

Swartland sê sy is baie bly vir haar larney wat kom hand bysit het om die huis weer vir haar op te rig.

Ander inwoners sê hulle waardeer wat die barmhartige Samaritane vir hulle doen.

Die weerdiens voorspel nóg stormsterk winde en ’n opvolg-front teen Dinsdag.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters