3 maande gelede
Sterk leier se stem vir altyd stil
anthony hessFoto verskaf  ~ 

DIE geliefde skoolhoof van Groenberg Sekondêr in Grabouw, Anthony Hess, is Vrydagaand aan ’n hartaanval oorlede nadat hy in die hospitaal opgeneem is ná ’n terugslag van ’n vorige operasie.

Hess het diep spore getrap in die Overberg-gemeenskap. Sy internasionale en plaaslike skole-vennootskappe het ’n groot impak.

Hy het sy onderwysloopbaan in 1984 aan Groenberg begin en is in 1997 tot prinsipaal bevorder. Hy was 21 jaar lank die skoolhoof.

Hy het sy visie voluit geleef deur die klem te lê op die opheffing van leerders uit erg agtergeblewe gebiede. Hess was ’n sterk leier met vele mylpale in die onderwys, en is vereer deur die Wes-Kaap te verteenwoordig in die Nasionale Onderwystoekennings.

Vakbondleier

Sport was sy forte en hy het sy visie uitgeleef deur te sorg dat sport brûe bou tussen kinders, skole en gemeenskappe.

Hyself was ’n kranige rugbyspeler en administrateur wat Boland verteenwoordig het voor en ná unity in sport.

Aan die onderwysfront, as vakbondleier, het hy ’n vurige rol gespeel. Hy was die stigter van GOPROF (Grabouw) wat SADTU (vakbond) in die Wes-Kaap voorafgegaan het in 1990.

Hess laat sy vrou, Crizelda, seuns, Ethan en Jaen, dogters, Oriël en Arien, agter.

’n Roudiens word Donderdag 19:30 in Groenberg S.S. skoolsaal gehou. Saterdag is die besigtiging 09:00 by sy ouerhuis. Die begrafnisdiens volg daarna in die Anglikaanse Kerk St. Peters te Botrivier.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters