ANDRÉ de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof, het persoonlik onderneem om die probleem van gebreekte straatligte van Stellenbosch Munisipaliteit op te los.
Dr. Leon Schreiber, kiesafdelingshoof vir Stellenbosch, sê in 'n verklaring inwoners van Jamestown, Mountainview, Kylemore, Wemmershoek, La Motte en dele van Klapmuts sukkel al baie lank omdat Eskom nie gou genoeg straatligte in die areas herstel nie.
"Die voortdurende probleme met beligting stel inwoners bloot aan misdaad en maak strate saans onveilig."
Schreiber sê Stellenbosch Munisipaliteit het Eskom op 13 Februarie verlede jaar gevra om beheer van die 1 000 straatligte onder Eskom se bestuur aan die munisipaliteit oor te gee om self reg te maak.
Hoewel Eskom daartoe ingestem het, sleep hulle volgens Schreiber steeds hul voete.
Hy het op 20 Februarie 'n petisie met honderde handtekeninge van die Jamestown- en Mountain View-gemeenskappe by die Nasionale Vergadering ingedien.
Volgens Schreiber het De Ruyter Vrydag tydens 'n sitting van die parlementere portefeuljekomitee oor openbare ondernemings gesê daar moet nou net saamgestem word op die vinnigste manier hoe 'n ooreenkoms oor die straatligte geïmplementeer kan word.