18 dae gelede
Spaza shot is winkelier se einde
PLEK VAN MOORD: In dié spaza is die winkeleienaar ten aanskoue van klante doodgeskiet. Foto: BASIL DAVIDS  ~ 

ASHTON. – ’n Winkelier is ten aanskoue van klante met een skoot in die maag doodgeskiet.

Dié afgryslike voorval het Maandag kort ná 19:00 in die Rhobot Bhekela spaza shop in die buurt Zolani gebeur.

Volgens AO Sylvester Joseph, polisiewoordvoerder, is die 39-jarige buitelander in sy winkel dood aangetref.

Drie verdagtes het by die winkel ingeloop en die eienaar gedreig. Kort daarna het hulle R13 000 gevat en die winkelier doodgeskiet terwyl sy klante magteloos toekyk.

Joseph sê die mans was nie eens gemasker nie.

Ingewals

Volgens hom het die klante alles gesien, maar hulle het vir hulle lewe gevrees, want hulle is ook gedreig.

Een van die klante wat verkies om anoniem te bly uit vrees vir sy lewe, sê die skieters het soos normale klante by die winkel ingewals.

“Die volgende oomblik het een van die verdagtes ’n gun uitgepluk en dit op die mense gerig,” vertel hy.

Die jongens het geld gevra en kort daarna het een skoot geklap. Die winkeleienaar is in die maag geskiet en het morsdood neergeval.

Die polisie is ontbied, maar die verdagtes was toe reeds witweg.

Enige een met inligting kan die plaaslike polisie by 023 615 8120 bel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters