2 maande gelede
(Son)kragboks net betyds
beter dae: Sophia Mbuli­swana is darem nou in haar noppies.  ~ 

RAWSONVILLE. – “Moet ek eers doodgaan voordat Eskom besef daar is fout met die kragboks?”

Só het Sophia Mbuliswana (49) uitgevaar teenoor Son nadat sy meer as ’n week in die donker gesit het met ’n foutiewe kragboks en peperduur kos wat weens dié situasie sleg geraak het.

Permanent

Mbuliswana het ook uitgevaar dat dit nie die eerste keer is dat haar kragboks trip en heeltemal afslaan nie. In die 10 jaar dat sy in haar Wendy in Hammat Square bly, het dit gereeld gebeur.

“Die vorige keer was my krag drie weke af voordat Eskom uitgekom het om dit reg te maak. Hulle kan gerus die boks permanent regmaak of omruil,” het sy gesê.

Dis toe presies wat gister gebeur het nadat Son ’n navraag oor Mbuliswana se situasie aan Eskom gestuur het.

Binne enkele ure nadat Son Eskom gevra het om kommentaar te lewer, het Eskom bevestig dat hy gister ’n nuwe kragboks sou gaan installeer.

Dis duidelik dat Son steeds die krag het om ’n verskil te maak – en nou sal Mbuliswana se donker dae weer vol lig wees.

Sy het genoem sy was bang die boks sou nie vervang word nie, dat dit weer ’n tydelike fix sou wees of selfs ’n brand veroorsaak.

“Wie wil doodbrand? Dan word berig dat dit ’n kers is wat die plek afgebrand het en dat dit my skuld is. Ek wil nie ’n slagoffer wees nie,” sê sy.

Mbuliswana het gister bevestig sy het ’n oproep van Eskom ontvang dat hy haar boks kom vervang.

moedeloos: Sophia Mbuliswana maak vuur voor haar Wendy sodat sy vir haar kinders kan kos kook. FOTO’S verskaf

Sy juig gister: “Ek moet baie dankie sê aan Son, want as julle nie ingegryp het nie, was hulle nie haastig nie. Ek’s glad nie spyt dat ek Son koop nie!”

Mbuliswana noem dit kon nie gou genoeg gebeur het nie omdat sy al die laaste week vir haar en haar twee kinders (12 en 17) buite vuurmaak om kos te kook.

“Ek het sonder keuse in die koue in die reën gesit.

“Ek het op die 25ste nog kos gekoop, maar oor die krag het dit vrot geraak en ek moes dit weggooi.”

Toe die kragboks afslaan, het dit ook haar TV beskadig.

“Dis al die derde TV wat ingee oor die kragboks trip.”

Gister het Eskom só ge­reageer: “Eskom kan bevestig dat operateurs van die Worcester Customer Network Centre kontak gemaak het met die kliënt van Rawsonville en hulle sal vandag (gister) ’n nuwe meter installeer.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters