6 maande gelede
Slegte gevoel, toe die skok
OORLEDE: Cavin Smith (40) het Sondag in die Breërivier verdrink.  ~ Foto Verskaf

ROBERTSON. – “Hy wou nie na my luister nie. Hy het steeds in die rivier gaan swem,” sê die emosionele daddy van ’n man wat verdrink het.

George Smith staan verslae op die wal van die rivier en staar na die water terwyl hy van die tragedie vertel.

Sy seun Cavin Smith (40) het Sondagoggend saam met sy tjommies en familie vir die dag by die Breërivier gaan uitkamp.

George vertel hy het die oggend voor hulle vertrek nog vir Cavin gesê dat hy nie van die idee hou dat hulle rivier toe gaan nie.

“Ek het net ’n gevoel gehad dat die dag in ’n tragedie gaan verander,” onthou George hartseer.

George sê hy verneem Cavin het in die rivier ingeduik en na die ander kant geswem.

Moeg

Volgens George het ’n tjommie saam met Cavin na die oorkant geswem.

Cavin het na verneem word moeg geword en onder die water verdwyn voordat hy die ander wal kon bereik.

George sê die tjommie het Cavin toe probeer help, maar dié het weer onder die water verdwyn.

George vertel hy ken die rivier baie goed. Volgens hom is daar op die plek waar Cavin verdwyn het massiewe pompe wat water na die omliggende plase pomp.

“Daai pompe suig water. Een van daai pompe het Cavin ook ingesuig,” meen George.

Die polisie se duikeenheid het Sondag omstreeks 20:00 begin om na die liggaam te soek. Hulle het dit 21:00 gekry.

Die reëlings vir die begrafnis word nog getref.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters